Handelinge 18:19-28 Die Boodskap (DB)

19. Daarna is Paulus na Efese toe. Akwila en Priscilla het besluit om in Efese agter te bly. Met sy verblyf in die stad het Paulus ’n vinnige besoek by die plaaslike sinagoge afgelê. Daar het hy met die Jode oor Jesus gaan praat. Die mense was so aangegryp deur wat hy gesê het dat hulle wou hê hy moes nog ’n hele ruk by hulle bly. Paulus het egter nie daarvoor kans gesien nie.

20-21. “As God wil, kom ek binnekort weer na julle toe,” het hy vir hulle gesê. Hy het daarna met ’n skip uit Efese weggevaar en in Sesarea aangekom.

22. Daar het hy al die gemeentelede gaan groet en toe na Antiogië vertrek. Paulus het daar oorgebly.

23. Na ’n kort rustydjie het hy weer begin reis, dié keer deur die landstreke van Galasië en Frigië. Hy het by al die gelowiges wat daar gebly het ’n draai gaan maak en hulle moed ingepraat.

24. Intussen het ’n Christen met die naam Apollos in Efese aangekom. Hy was ’n Jood wat in die stad Aleksandrië in Egipte gebore is. Apollos was ’n goeie spreker. Hy het die Bybel ook goed geken. Tog was sy kennis oor Jesus nog maar gebrekkig. Hy was net met die doop van Johannes die Doper gedoop.

25. Apollos was ’n goeie prediker. Hy het sy bes gedoen om die mense te leer hoe om Jesus na te volg.

26. Apollos het ook in die sinagoge in Efese met die mense oor Jesus gaan praat. Priscilla en Akwila het hom daar raakgeloop. Toe hulle hoor wat hy vir die mense oor Jesus sê, het hulle besef dat hy nog nie alles mooi verstaan nie. Hulle het hom toe na hulle huis genooi. Daar het hulle die evangelie deeglik aan hom verduidelik.

27. Apollos het daarna besluit om na die Romeinse provinsie Agaje te gaan. Die gelowiges in Efese het hom aangemoedig om dit te doen. Hulle het ’n brief geskryf wat hy moes saamvat waarin hulle vra dat die gelowiges in Agaje vir Apollos vriendelik moet ontvang en blyplek aan hom moet verskaf.

28. Toe Apollos in Agaje opdaag, was die Christene wat daar gewoon het baie bly. Hulle kon sien dat God hom na hulle toe laat kom het, want hy het baie vir hulle almal beteken. Apollos het daar voor almal bewys dat die Jode wat nie in Jesus wou glo nie, verkeerd was. Met hulle slim redenasies was hulle nie opgewasse teen hom nie. Hy het uit die Bybel vir hulle gewys dat Jesus die Messias is.

Handelinge 18