1. Toe Paulus en Barnabas in Ikonium aankom, het hulle na die Joodse aanbiddingsplek toe gegaan en daar met die mense oor Jesus begin praat. ’n Groot klomp Jode en nie-Jode het toe tot bekering gekom en in Jesus begin glo.
2. Die Jode wat geweier het om in Jesus te glo, was baie ontevrede daaroor. Hulle het begin om die res van die stad se inwoners teen hulle op te steek sodat almal baie agterdogtig teenoor hulle was.
3. Maar Paulus en Barnabas het nog ’n hele ruk daar gepreek. Hulle was nie bang om oor die Here te praat en vir die mense van God se goedheid te vertel nie. Hulle het ook wonderwerke en allerhande buitengewone dinge gedoen. So kon die mense sien dat God regtig deur hulle praat.
4. Die mense van Ikonium was later in twee kampe verdeel oor Paulus en Barnabas. Party was aan hulle kant, terwyl ander weer aan die kant van hulle Joodse opponente was.
5. Diegene wat teen hulle was, het toe saam met sekere stadsraadslede besluit om hulle te laat vang. Hulle was van plan om eers vir Paulus en Barnabas ’n goeie drag slae te gee en hulle daarna met klippe dood te gooi. Paulus-hulle het daarvan te hore gekom en dadelik uit die stad padgegee.
6. Hulle het toe in die stede Listra en Derbe gaan preek.
7. Daar het hulle die goeie nuus oor Christus aan die mense gaan vertel.
8. In Listra was daar ’n man wat sy voete nie kon gebruik nie omdat hy van sy geboorte af verlam was.
9. Hy het op ’n dag gesit en luister hoe Paulus vir die mense van Jesus vertel. Paulus het na hom gekyk en agtergekom dat die man begin glo dat God sy lewe kan aanraak.
10. Toe het Paulus hard vir hom gesê: “Staan op! Begin loop!” Die man het dadelik orent gespring en begin rondbeweeg.
11. Toe die mense sien wat Paulus gedoen het, het hulle opgewonde in hulle Likaoniese taal uitgeroep: “Die gode het mense geword! Die gode het na ons toe gekom!”