Handelinge 13:34-46 Die Boodskap (DB)

34. “Toe God Jesus lewendig gemaak het, het Hy dit eens en vir altyd gedoen. Jesus sal nooit weer doodgaan en in die doderyk vergaan nie. So het God alles waar laat word wat Dawid vroeër gesê het:

35. ‘U sal nooit toelaat dat u eie kneg in die doderyk vergaan nie.’

36. “Dawid het natuurlik nie oor homself gepraat toe hy dit geskryf het nie. Hy is immers lankal dood en begrawe. Van hom het daar niks oorgebly nie.

37. Maar Jesus is deur God lewendig gemaak. Hy sal nooit weer die binnekant van die doderyk met al sy verrotting sien nie.

38. “Vriende, julle moet mooi luister na wat ek vandag vir julle sê: julle moet begryp dat Jesus al julle sondes kan vergewe. Dit is die boodskap wat ek vandag aan julle bring.

39. Ja, Hy kan selfs daardie sondes van julle wegvat wat die wet van Moses nie kan wegvat nie. Elkeen wat in Jesus glo, se saak met God is weer in orde.

40. “Moenie die fout maak om hierdie boodskap te verwerp nie. Dan gaan dit van julle waar wees wat God deur een van sy boodskappers gesê het:

41. ‘Oppas, julle spul spotters. Julle gaan verbaas staan oor wat Ek onder julle gaan doen. Dit gaan so indrukwekkend wees dat julle dit nie sou glo as iemand anders julle daarvan vertel het nie. Maar dan sal dit te laat wees, want Ek gaan julle vernietig.’”

42. Toe die diens in die sinagoge verby was, het die mense vir Paulus gevra om weer die volgende sabbat met hulle oor Jesus te kom praat. Terwyl hulle begin huis toe gaan, het ’n groot groep Jode en ’n klompie persone wat hulle vroeër tot die Joodse geloof bekeer het, agtergebly.

43. Paulus en Barnabas het nog lank met hulle gepraat. Hulle het vir die mense gesê: “Hou altyd net aan God se goedheid vas. Glo in Christus!”

44. Op die volgende sabbat het omtrent die hele stad se inwoners by die sinagoge opgedaag om na die Here se woord te kom luister.

45. Toe die Jode die groot skare sien, het hulle groen van jaloesie geword. Hulle het daar voor almal begin om Paulus te beledig en om lasterlike dinge teen Jesus te sê.

46. Paulus en Barnabas het skerp daarop gereageer: “Ons moes eerste met julle oor God se verlossingsdade kom praat. Maar noudat julle die rug daarop gekeer het, moet julle weet dat julle die ewige lewe gaan misloop. Ons gaan nou die goeie nuus meedeel aan mense wat nie Jode is nie. God het ons beveel om na hulle toe te gaan toe Hy vir ons gesê het:

Handelinge 13