26. “Broers, julle is Abraham se nageslag. Julle is die mense wat groot respek vir God het. Weet julle, hierdie boodskap van verlossing is spesiaal vir julle bedoel.
27. “Die inwoners van Jerusalem en al hulle leiers het nie ’n idee gehad wie Jesus regtig is nie. Daarom het hulle Hom doodgemaak. So het hulle die woorde van die profete waar laat word wat julle elke sabbat hier in julle sinagoge lees. Daardie mense het glad nie ’n goeie rede gehad om Jesus dood te maak nie, maar nogtans het hulle dit gedoen.
28. Hulle het by die Romeinse goewerneur, Pilatus, gaan soebat dat hy Hom moes teregstel.
29. “Nadat hierdie mense alles aan die Messias gedoen het wat die profete gesê het hulle sou doen, het hulle sy liggaam van die kruis afgehaal en Hom gaan begrawe.
30. “God het Hom weer lewendig gemaak.
31. Daarna het Jesus dikwels aan sy volgelinge verskyn. Dit is hulle wat van die tyd toe Hy in Galilea gepreek het oral saam met Hom rondgegaan het. Daardie mans het met hulle eie oë gesien dat Hy lewe. Hulle is op hierdie selfde oomblik besig om oral onder die Israeliete te preek.”
32. “Ons het vandag baie goeie nuus vir julle: al die beloftes wat God aan ons voorouers gemaak het, het nou waar geword.
33. Ons, hulle kinders, kan nou hoor en sien dat dit waar geword het toe Hy Jesus lewendig gemaak het. Een van die psalms beskryf dit glashelder: ‘Jy is my Seun. Net jy! Vandag verklaar Ek voor almal dat Ek jou Vader is.’
34. “Toe God Jesus lewendig gemaak het, het Hy dit eens en vir altyd gedoen. Jesus sal nooit weer doodgaan en in die doderyk vergaan nie. So het God alles waar laat word wat Dawid vroeër gesê het:
35. ‘U sal nooit toelaat dat u eie kneg in die doderyk vergaan nie.’
36. “Dawid het natuurlik nie oor homself gepraat toe hy dit geskryf het nie. Hy is immers lankal dood en begrawe. Van hom het daar niks oorgebly nie.
37. Maar Jesus is deur God lewendig gemaak. Hy sal nooit weer die binnekant van die doderyk met al sy verrotting sien nie.
38. “Vriende, julle moet mooi luister na wat ek vandag vir julle sê: julle moet begryp dat Jesus al julle sondes kan vergewe. Dit is die boodskap wat ek vandag aan julle bring.
39. Ja, Hy kan selfs daardie sondes van julle wegvat wat die wet van Moses nie kan wegvat nie. Elkeen wat in Jesus glo, se saak met God is weer in orde.
40. “Moenie die fout maak om hierdie boodskap te verwerp nie. Dan gaan dit van julle waar wees wat God deur een van sy boodskappers gesê het:
41. ‘Oppas, julle spul spotters. Julle gaan verbaas staan oor wat Ek onder julle gaan doen. Dit gaan so indrukwekkend wees dat julle dit nie sou glo as iemand anders julle daarvan vertel het nie. Maar dan sal dit te laat wees, want Ek gaan julle vernietig.’”
42. Toe die diens in die sinagoge verby was, het die mense vir Paulus gevra om weer die volgende sabbat met hulle oor Jesus te kom praat. Terwyl hulle begin huis toe gaan, het ’n groot groep Jode en ’n klompie persone wat hulle vroeër tot die Joodse geloof bekeer het, agtergebly.
43. Paulus en Barnabas het nog lank met hulle gepraat. Hulle het vir die mense gesê: “Hou altyd net aan God se goedheid vas. Glo in Christus!”