Handelinge 10:5-16 Die Boodskap (DB)

5. Daarom wil Hy hê dat jy ’n paar manne Joppe toe moet stuur.

6. Daar bly ’n man met die naam Simon. Hy word ook Petrus genoem. Jy moet hom laat haal. Hy bly daar by Simon wat leergoedere verkoop in ’n huis teen die see.”

7. Nadat die engel vertrek het, het Kornelius twee van sy huiswerkers en ’n soldaat wat ook godsdienstig was, laat haal.

8. Hy het vir hulle vertel wat gebeur het en hulle Joppe toe gestuur.

9. Die volgende dag, terwyl hierdie drie mans op pad was Joppe toe, het Petrus so teen twaalfuur die middag op die dak van die huis waar hy gebly het, geklim om te bid.

10. Nadat Petrus ’n ruk lank gebid het, het hy honger geword. Hy wou iets te ete gaan kry, maar die vroue was nog nie klaar met die middagete nie.

11. Toe het hy skielik ’n visioen gesien.

12. Reg voor sy oë het die hemel oopgegaan en iets soos ’n laken wat aan sy vier hoeke vasgemaak is, het tot op die grond voor hom afgesak.

13. Binne-in was allerhande soorte diere, en ook ’n klomp reptiele en voëls. ’n Stem het vir hom gesê: “Staan nader, Petrus, begin slag en eet!”

14. “Oor my dooie liggaam. Ek sal nooit so iets doen nie, Here!” het hy geantwoord. “Ek het nog nooit in my lewe iets geëet wat in Moses se wet as onrein beskou word nie.”

15. Die stem het weer ’n keer met Petrus gepraat: “As God sê dat jy iets kan eet, mag jy dit maar doen. Dan mag jy nie sê dit is onrein nie.”

16. Dit het drie maal gebeur. Toe is die laken weer teruggevat in die hemel in.

Handelinge 10