Genesis 4:12-26 Die Boodskap (DB)

12. Al ploeg en bewerk jy die grond, daar sal niks van kom nie. Jy sal vir altyd ’n eensame swerwer op aarde wees.”

13. Kain het toe gesê: “My straf is te swaar. Ek kan dit hoegenaamd nie alleen dra nie.

14. U het my vandag van die grond af verban. Ek moet wegkruip voor U. Dag vir dag sal ek rusteloos op die aarde moet rondswerf. En enigeen wat my raakloop, sal my ook wil doodmaak.”

15. “Nee,” het die Here gesê, “dit sal nie gebeur nie. Enigeen wat vir Kain doodmaak, sal self ’n wrede dood sterf.” Die Here het toe ’n merk op Kain se voorkop gemaak. Dit moes mense afskrik om hom dood te maak.

16. Kain het toe weggegaan, weg van sy grond en die teenwoordigheid van die Here af. Hy het gaan bly in die land Nod, duskant die tuin van Eden.

17. Kain se vrou het verwag en hulle seun Henog is gebore. Kain het intussen ’n groot stad gebou. Hy het dit na sy seun Henog vernoem.

18. Henog se oudste seun was Irad. Irad se seun was Mehujael. Mehujael het ’n seun met die naam Metusael gehad. Metusael was die pa van Lameg.

19. Lameg het twee vroue gehad. Een se naam was Ada en die ander een was Silla.

20. Ada was die ma van Jabal. Hy was die voorouer van die nomades, wat met hulle vee rondtrek en in tente bly.

21. Sy broer se naam was Jubal, en hy was die voorouer van al die musikante.

22. Tubal-Kain was Silla se seun. Hy was die voorouer van die vakmanne wat die allermooiste dinge van koper en yster gemaak het. Tubal-Kain se suster was Naäma.

23. Op ’n dag het Lameg vir sy twee vroue gesê: “Ada en Silla, luister baie mooi en spits julle ore: ek, Lameg, ek duld niks van niemand nie. Ek sal ’n man doodmaak wat my wil wond en ’n seun wat my wil beseer.

24. Kain is sewe keer gewreek, maar ek, Lameg, sal 77 keer gewreek word.”

25. Adam en Eva het weer ’n kind gehad en hulle het hom Set genoem. Eva het gesê: “Die Here het my ’n ander kind gegee in die plek van Abel wat deur sy broer Kain vermoor is.”

26. Set het ook ’n seun gehad en hom Enos genoem. In die tyd van Enos het die mense die Here begin aanbid.

Genesis 4