7. Hy het gesê Esau moet vir hom ’n stukkie wild gaan skiet en lekker kos maak. Na die ete wil jou pa hom dan seën. Jou pa wil dit doen voordat hy sterf. Hy het ook gesê dit is die wil van die Here dat hy Esau seën.
8. Jakob, moet nou nie teëpraat nie. Maak presies soos ek sê.
9. Gaan baie vinnig kraal toe en kry vir my twee lekker vet bokkies. Ek sal dit dan gaarmaak en vir jou pa sy lieflingdis voorsit.
10. Jy moet dit dan vir jou pa vat en sorg dat hy dit eet. Hy sal jou dan seën in die plek van Esau, voor hy doodgaan.”
11. Jakob het Rebekka geantwoord: “Ma, dit gaan nie werk nie. Esau is harig terwyl my vel glad is.
12. Sê nou Pa wil aan my vat. Hy sal dink ek spot met hom en sal my nie wil seën nie. Dan bring ek ’n vervloeking oor my eerder as ’n seën.”
13. Sy ma het geantwoord: “Toe maar, jou ellende sal oor my kom. Doen net wat ek vir jou sê en gaan haal die bokkies wat ek jou gevra het.”
14. Jakob is toe weg en het gedoen wat sy ma gesê het. Hy het alles vir haar gebring en sy het lekker kos vir sy pa gemaak, kos waarvan hy gehou het.
15. Rebekka het haar oudste, Esau, se beste klere geneem en dit vir Jakob, haar jongste, aangetrek.
16. Verder het sy die bok se velletjies om sy hande en om die gladde deel van sy nek gesit.
17. Toe vat sy die lekker kos en die brood wat sy gebak het en sit dit in Jakob se hande.
18. Jakob het na sy pa toe gegaan en hom gegroet. “Dag, Pa,” het hy gesê.Isak het geantwoord: “Ja, hier is ek, maar wie is jy, my seun?”
19. Jakob sê toe vir sy pa: “Dit is ek, Esau, Pa se oudste kind. Ek het gedoen soos Pa gesê het. Sit nou gemaklik sodat Pa van my lekker wildskos kan eet. Daarna kan Pa my seën.”
20. Isak wou egter weet hoe hy so vinnig die wild opgespoor het. Jakob het geantwoord: “Pa se God, die Here, het my gehelp.”
21. Isak het toe vir Jakob gesê: “Kom ’n bietjie nader sodat ek kan voel of jy regtig my seun Esau is of nie.”
22. Jakob het nader aan sy pa gekom. Isak het aan hom gevoel en gesê: “Die stem is die stem van Jakob, maar die hande is Esau s’n.”
23. Isak het niks agtergekom nie, want die hande was net so harig soos dié van Esau.
24. Hy vra toe vir Jakob: “Is jy rêrig my seun Esau?”Jakob het skaamteloos geantwoord: “Ja, ek is.”
25. Isak het gesê: “Sit die lekker kos vir my voor sodat ek my seun se wildsgereg kan eet en jou dan seën.” Hy het toe vir hom die kos en wyn gegee.
26. Daarna het sy pa, Isak, vir hom gesê: “Kom nader, my seun, en soen my.”