1. Na ’n ruk het die Here in ’n gesig na Abram toe gekom. Hy het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, Abram! Ek is naby jou en Ek pas jou op. Ek sal jou nog baie dinge gee.”
2. Abram was so moedeloos oor sy kinderloosheid dat hy gesê het: “Ag, Here, wat help u geskenke as ek nie kinders het nie. Eliëser wat uit Damaskus kom, die een wat vir my werk, hy sal nog eendag al my goed erf.
3. “U het my nie ’n kind gegee nie, Here, en daarom sal een van my werkers nog al my besittings kry.”
4. Die Here het toe vir Abram gesê: “Nee, dit sal nie gebeur nie. Eliëser sal niks van jou erf nie. Jou eie kind sal eendag alles kry.”
5. Die Here het Abram buitentoe geneem en gesê hy moet opkyk. “Probeer ’n bietjie al die sterre tel,” het Hy gesê. Abram kon nie en die Here het gesê: “Jou nageslag sal nog eendag net so baie soos hierdie sterre word.”
6. Abram het die Here toe geglo. Vir die Here was dit goed dat Abram so op Hom vertrou.
7. Verder het die Here gesê: “Abram, Ek is die Een wat jou familie destyds uit Ur van die Galdeërs laat wegtrek het. Ek het dit gedoen omdat Ek hierdie land vir jou wil gee.”
8. Abram het vinnig gereageer: “Maar hoe weet ek dit, Here? Hoe weet ek dat alles eendag myne sal wees?”
9. Die Here het hom so geantwoord: “Bring vir My ’n vers, ’n bok en ’n skaapram, almal so drie jaar oud. En bring ook sommer ’n tortelduif en ’n jong duif saam.”