Esra 4:15-24 Die Boodskap (DB)

15. Wanneer u in die geskiedenisboeke van die konings wat voor u regeer het gaan kyk, sal u sien dat Jerusalem nog altyd moeilikheid gemaak het. Van lankal af al wou hulle niks weet nie en het hulle dit moeilik gemaak vir die Persiese koning en die ander volke in die provinsies. Dit is ook die rede hoekom die stad destyds verwoes is.

16. Ons wil hê dat u baie goed moet weet dat u hierdie deel in Wes-Eufraat gaan verloor as die stad se mure eers eenmaal klaar gebou is en die stad reg is om oorlog te maak.

17. Die koning het hulle in ’n brief geantwoord:Aan Regum, Simsai die sekretaris en die ander amptenare wat in die provinsie Samaria en die res van Wes-Eufraat woon. Die koning groet julle.

18. Die dokument wat julle vir my gestuur het, is vertaal en vir my gelees.

19. Ek het gesê dat hulle in die geskiedenisboeke moet gaan kyk wat daar oor Jerusalem geskryf is. Dit het uitgekom dat hierdie stad inderdaad van lankal af teen die konings was. Daar was altyd weerstand en oproer in die stad.

20. Jerusalem het sterk konings gehad wat oor die hele Wes-Eufraat regeer het. Hulle het belasting by die ander mense daar gevat.

21. Julle moet vir hierdie mense gaan sê om op te hou met hulle bouwerk. Die stad mag nie herbou word voordat ek self toestemming daarvoor gee nie.

22. Gee dadelik aandag aan die saak. Keer dat daar skade kom vir my ryk.

23. Die oomblik toe die brief van koning Artasasta vir Regum, die sekretaris Simsai en die ander amptenare gelees is, het hulle vinnig na die Judeërs in Jerusalem gegaan. Hulle het die Judeërs gedwing om op te hou met die werk.

24. Die werk het toe tot stilstand gekom. Dit het net so bly lê tot in die tweede jaar wat Darius koning was.

Esra 4