Esegiël 36:21-32 Die Boodskap (DB)

21. Toe Ek dit hoor, het Ek besef dat die ander nasies My nie erken vir wie Ek is nie. Ek moes iets daaraan doen.”

22. Daarom, sê vir Israel die Here, Esegiël se God, belowe: “Ek bring julle terug na julle eie land toe. Maar dit is nie omdat julle dit verdien nie. Ek doen dit sodat die nasies My sal raaksien vir wie Ek is. Julle het niks gedoen om vir die nasies tussen wie julle as gevangenes gebly het, te wys wie Ek is nie.

23. Ek sal vir julle wys wie Ek regtig is. Julle sal die Een sien wat julle nie wou aanbid terwyl julle gevangenes in die vreemde land was nie. Wanneer Ek Myself vir julle wys soos Ek is, sal die ander nasies erken dat Ek die Here is. Want hulle sal My ook sien.” So sê die Here, die God van Esegiël:

24. “Ek sal julle wys wie Ek is daardie dag as Ek julle bymekaarmaak waar julle tussen die nasies as gevangenes bly. Ek sal julle na julle eie land toe bring.

25. Daardie dag sal Ek julle skoonmaak. Dan sal julle regtig skoon wees, vir die eerste keer. Ek sal al die slegte dade van julle afwas, en julle sal nie meer voor die afgode buig en offers aan hulle bring nie.

26. Want Ek sal julle harte nuut maak. Dan sal julle heeltemal anders dink. Ek maak julle van voor af nuut. Ek haal julle ou harte uit wat kliphard geword het van al die slegte dinge wat julle doen. En Ek maak julle heeltemal gehoorsaam aan My.

27. Ek sal daardie dag my Gees in julle laat bly. Hy sal julle leer om gehoorsaam te wees aan wat Ek julle beveel. Dan sal julle doen wat Ek sê.

28. “Dan sal julle weer in die land Israel leef. Dit is die land wat Ek lank terug vir Abraham en Isak en Jakob gegee het. Julle sal my volk wees. En Ek sal julle God wees.

29. Ek sal julle silwerskoon maak sodat julle nie meer slegte dinge sal doen nie. Ek sal aan julle goeie oeste op julle lande gee. Niemand sal meer honger wees in julle land nie.

30. As julle vrugtebome plant, sal hulle elke jaar meer vrugte dra as wat julle kan eet. En julle sal rekordoeste hê van koring en mielies. Die nasies rondom julle sal nooit weer met julle kan spot omdat julle swaarkry en honger is nie.

31. Daardie dag sal julle onthou watter slegte dinge julle aangevang het. En dan sal julle bloedrooi van skaamte word. Julle sal julleself haat oor al julle sondes.

32. “Maar onthou,” sê die Here, die God van Esegiël, “Ek doen nie hierdie goeie dinge vir julle omdat julle dit verdien nie. Nee, my volk Israel. Die teenoorgestelde is waar. Julle behoort julle morsdood te skaam oor al die lelike goed wat julle aangevang het!”

Esegiël 36