Esegiël 23:15-32 Die Boodskap (DB)

15. Hulle het blink gordels en hoede gedra. Hulle was aangetrek soos Babiloniese soldate wat met perde oorlog maak.

16. Toe sy hierdie prentjies sien, het sy net een begeerte gehad. Sy wou haar liggaam met hulle deel. Daarom het sy boodskappers na Babilonië gestuur en hierdie soldate genooi om na haar toe te kom.

17. En hulle het gekom en by haar geslaap. Hulle het haar vuil gemaak. Maar hierna het sy nie meer van hulle gehou nie. Sy het hulle weggejaag.

18. “Daarom het Ek moeg geraak vir albei sussies se slegte dade. Hulle het albei net vieslike dinge met ander mans aangevang.

19. Maar dit het Jerusalem nie gepla nie. Sy het selfs nog slegter dade gedoen. Sy het onthou hoe sy as ’n jongmeisie in Egipte al rondgeslaap het. En sy het nie opgehou met al die slegte dinge wat sy gedoen het nie.

20. Sy het nie teruggedeins van die slegste dinge nie.

21. Oholiba, jy het bly terugverlang na jou slegte gedrag toe jy in Egipte ’n jongmeisie was en die mans jou geliefkoos en met jou borste gespeel het.”

22. So sê die Here, die God van Esegiël: “Oholiba, Ek gaan die mans by wie jy geslaap het, teen jou laat optrek. Hulle is die nasies wat jy weggejaag het omdat jy nie meer van hulle gehou het nie.

23. Hulle sal van alle kante af op jou neersak: die Babiloniërs en die Galdeërs sal saam kom, en die Assiriërs ook. Hulle kapteins en generaals op hulle perde sal op jou toesak.

24. Hulle sal uit die noorde kom met waens en perde en ’n leërmag met baie wapens, gereed om jou aan te val. Hulle sal jou met al hulle soldate omsingel. En Ek sal jou aan hulle oorgee sodat hulle met jou kan doen wat hulle wil.

25. Ek was jaloers op jou, en Ek was kwaad oor wat jy gedoen het. Daarom gee Ek jou oor sodat jou vyande my straf oor jou bring. Hulle sal jou sleg behandel. Hulle sal jou neus en ore afsny soos ’n mens met opstandige vyande van jou doen. En hulle sal almal wat die oorlog oorleef, voor die voet doodmaak. Jou kinders sal as gevangenes weggeneem word na ’n vreemde land. Alles wat in jou oor is, sal tot op die grond afgebrand word.

26. Hulle sal al jou juwele en mooi klere steel.

27. Op hierdie manier sal Ek ’n stokkie steek voor jou slegte dade. Jy sal nie meer saam met enige ander man in die bed kan spring nie, soos jy gemaak het vandat jy in Egipte gebly het. Jy sal nooit meer begeer om verkeerde dinge te doen nie, en jy sal ook nie meer wens jy was weer in Egipte nie.”

28. Dit is wat Ek, die Here, Esegiël se God, oor jou sê: “Ek gee jou oor sodat jou vyande met jou kan maak wat hulle wil. Dis die mense op wie jy neergesien het.

29. Hulle haat jou en sal met jou maak wat hulle wil. Hulle sal vat wat hulle wil hê, en dan sal hulle jou kaal en stukkend los. Die hele wêreld sal jou sien vir wat jy is: ’n slegte vrou wat by ander mans geslaap het.

30. Jy het dit alles oor jouself gebring, want jy het jou vertroue op ander nasies gestel. Jy het jouself met hulle afgode besoedel.

31. Omdat jy nes jou sussie gemaak het, sal Ek jou straf deur dieselfde dinge oor jou te bring wat haar ook getref het.”

32. Ja, dis wat die Here, die God van Esegiël, sê: “Ek laat jou uit dieselfde beker drink waaruit jou suster gedrink het. Dit is ’n beker wat tot oorlopens toe vol is met my straf. Die hele wêreld sal sien hoe Ek jou straf, en dan sal hulle vir jou lag en met jou spot omdat Ek jou verwoes het.

Esegiël 23