21. Maar as slegte mense die slegte ophou doen en omdraai en agter My begin aanloop, en hulle doen wat Ek die mens beveel het om te doen, sal hulle lewe. Ek sal hulle nie doodmaak nie.
22. Ek sal vergeet van al die slegte dade wat hulle gedoen het. En hulle sal lewe omdat hulle begin het om goeie dade te doen.
23. “Dink jy dat dit vir My lekker is om slegte mense dood te maak?” Die Here, die God van Esegiël, vra vir jou hierdie vraag. “Natuurlik hou Ek nie daarvan om mense vir hulle slegte dade te straf nie. Ek sal so graag wil sien dat hulle omdraai en agter My aanloop sodat hulle kan bly lewe.
24. Maar as die mense wat reg doen, wegdraai en slegte dade begin doen en hulle leef soos die mense wat teen My in opstand is, moet Ek hulle laat lewe? Nee, natuurlik nie. Alles wat hulle voorheen gedoen het, al hulle goeie dade, sal vergeet word. En hulle sal doodgemaak word oor hulle slegte dade.
25. “Maar nou sê julle: ‘Die Here tree nie reg op nie! Hy is nie regverdig teenoor mense nie!’ Wat? Luister ’n bietjie hier, mense van Israel. Is dit Ek wat nie reg optree nie? Is dit nie eerder julle wat nie reg optree nie?
26. As mense wat reg optree en doen wat Ek sê, daarmee ophou en slegte dinge begin doen, sal hulle doodgemaak word vir hulle slegte dade.
27. En as mense wat slegte dinge doen, daarmee ophou en begin doen wat Ek sê, sal hulle bly leef.
28. Hulle sal lewe omdat hulle van die verkeerde pad omgedraai het om agter My aan te loop.