Esegiël 16:24-41 Die Boodskap (DB)

24. Jy het ook nog ’n plek gebou vir jou afgode. En jy het in elke dorp altare gebou waar jy offers vir jou afgode gebring het.

25. En op elke straathoek het jy jou lewe verwoes met al jou slegte dade. Jy het jou liggaam aangebied vir elke vreemdeling wat by jou verbygekom het. Jy het gesê: ‘Kom slaap by my!’

26. Jy het ook Egipte, waar jy ’n bediende was en waar Ek jou gaan verlos het, by jou minnaars gevoeg. Jy het My verskriklik kwaad gemaak met jou slegte dade om by al wat man is te slaap, al was jy met My getroud.

27. Daarom het Ek jou met my vuis bygedam. Ek het jou land al hoe kleiner gemaak. Ek het jou aan jou vyande oorgegee. Selfs jou vyande, die Filistyne, het verstom gestaan oor al die slegte dade waaraan jy jou oorgegee het.

28. Jy het jou liggaam op ’n skinkbord vir die Assiriërs gegee. Jy kon net nie genoeg minnaars kry by wie jy kon slaap nie. En as jy opstaan, het jy dadelik na nog iemand gesoek by wie jy kon slaap.

29. Selfs Babilonië het jou minnaar geword. Jy het ook by hom gaan slaap. En ná dit alles was jy nog nie tevrede nie.

30. “Hoe siek is jy nie in jou binneste nie, dat jy sulke dinge aanhou doen het! Jy was skaamteloos toe jy as getroude vrou so by enige man in die bed gespring het,” sê die Here, Esegiël se God.

31. “Jy het op elke straathoek plekke gebou waar jy jou afgode kon neersit. En op elke plein in jou dorpe het jy altare gebou om vir jou afgode te offer. Jy het slegter as ’n slet opgetree. Jy was ’n straatvrou wat nie eens betaling gevra het om jou liggaam vir ander mans te gee nie.

32. Jy was die slegte vrou wat met ander mans in die bed geklim het, maar niks met haar eie Man te doen wou hê nie.

33. ’n Straatvrou word betaal as sy haar liggaam vir mans gee. Maar nie jy nie! Jy het die mans wat jy na jou toe gelok het, betaal om dit te doen. Jy het hulle met geskenke omgekoop sodat hulle by jou sal slaap.

34. Waar ’n slet betaal word vir wat sy vir ander mans doen, het jy presies die teenoorgestelde gedoen. Niemand het jou betaal nie. Jy het hulle betaal.

35. “Daarom, jou slegte vrou, hoor as die Here met jou praat.”

36. Dit is hoe die Here, die God van Esegiël, oor jou dink: “Jy het jouself uitgetrek vir al wat man is. Jy het voor afskuwelike beelde van afgode neergeval en hulle aanbid. Jy het my kinders aan jou afgode geoffer.

37. Daarom gaan Ek die volgende dinge doen: Ek maak al jou vriende bymekaar, al die mans vir wie jy so lief was. Ja, selfs die mans van wie jy nie gehou het nie en vir wie jy jou neus opgetrek het, maak Ek bymekaar. En dan sal Ek al jou klere voor hulle uittrek. Hulle sal jou sien, en jy sal van skaamte inmekaarkrimp.

38. En dan sal Ek jou straf omdat jy my kinders doodgemaak het, en omdat jy by ander mans geslaap het. Jy sal vol bloed wees soos Ek jou in my woede gaan slaan.

39. Daarna gaan Ek jou oorgee in die hande van die mans by wie jy so graag geslaap het. Hierdie mans is die nasies waar jy hulp gaan soek het. Hulle sal jou vernietig. Hulle sal al die plekke wat jy vir jou afgode gebou het, stukkend kap. En hulle sal die altare omgooi wat jy vir jou afgode gebou het. Hulle sal jou klere uittrek en jou pragtige juwele steel. Hulle sal jou kaal agterlaat, en jy sal skaam wees vir jouself.

40. Hulle sal saamstaan en jou met klippe doodgooi en jou met swaarde uitmekaarsny.

41. Hulle sal jou huise afbrand en jou voor baie ander vroue straf. So sal Ek sorg dat jy ophou om by ander mans te slaap. En jy sal ook nooit weer mans betaal om by jou te slaap nie.”

Esegiël 16