21. Hier volg nou presies die hoeveelheid materiaal wat gebruik is om die tent te maak. Die Leviete het alles onder leiding van Itamar presies opgeteken. Moses het gesê dat dit gedoen moes word.
22. Besaleël die seun van Uri uit die stam van Juda het toesig gehou en gekyk dat alles gemaak is presies soos die Here gesê het.
23. Oholiab die seun van Agisamak uit die stam van Dan het hom gehelp. Hy was ’n vakman en ontwerper wat die bekwaamheid gehad het om borduurwerk te doen met blou, pers en bloedrooi wol op linne.
24. Die goud wat gebruik is om alles vir die tent te maak, was in totaal 986 kilogram goud en 38 kilogram silwer. Dit het gekom uit die vrywillige bydraes wat die volk gemaak het.
25. Die silwer wat bymekaargemaak is toe die volk getel is, was 3 400 kilogram plus nog twintig en ’n vyfde kilogram.
26. Toe die volk getel is, moes elke man bo twintig wat getel is, ses gram silwer betaal. Daar is in die sensus 603 550 mans getel.
27. Die 100 stawe silwer is gebruik om die 100 voetstukke vir die regop pale te giet, dit wil sê 34 kilogram per voetstuk.
28. Die twintig en ’n vyfde kilogram is gebruik vir die hakies en die gordynstokke en om die bopunte van die pale oor te trek.
29. Die koper wat die volk geskenk het, was in totaal 2 380 kilogram, plus nog ’n verdere 27 en bykans ’n half kilogram.
30. Daarvan is die volgende gemaak: die voetstukke van die regop pale by die ingang, die lys om die brandofferaltaar, sy koperrooster rondom, die gereedskap wat by die altaar gebruik is,
31. al die voetstukke van die pale wat rondom die binnehof gebruik is, die voetstukke van die pale by die ingang en al die koperpenne wat gebruik is om die tent en die linnemuur rondom die binnehof te anker.