18. die kopertentpenne en hulle toue waarmee die tent en die binnehof geanker moet word;
19. die spesiale klere wat vir die werk by die tent gebruik word, Aäron se klere en die klere wat sy seuns vir hulle werk moet gebruik.”
20. Nadat Moses met hulle gepraat het, het almal uitmekaargegaan.
21. Elkeen wat so gevoel het, het geskenke vir die Here gebring soos hulle self besluit het. Dit was dinge wat gebruik kon word om die tent te bou en te betaal vir alles wat daarvoor gemaak moes word, asook die klere wat vir die diens by die tent gemaak moes word.
22. Almal wat gevoel het hulle wil iets vir die Here gee, mans sowel as vroue, het gekom en hulle het vir die Here borsspelde, oorbelle en ringe, halssnoere en allerhande goed gegee wat van goud gemaak is. Elkeen het sy goue goed vir die Here gegee.
23. Elkeen wat blou, pers en bloedrooi wol gehad het, of linne, of bokhaar, of rooigekleurde ramsvel, of gebreide vel, het dit vir die Here gebring.
24. Dié wat dit kon bekostig, het vir die Here ’n geskenk van silwer of koper gebring. Elkeen wat akasiahout gehad het wat gebruik kon word om die meubels van die tent te maak, het dit gebring.
25. Vroue wat kon weef, het materiaal van blou, pers en rooi wol geweef en ook fyn linne. Hulle het dit dan vir die Here gebring.
26. Die vroue wat dit kon doen, het bokhaar geweef.
27. Die leiers van die volk het die onikssteen en die ander edelstene geskenk waarop gegraveer moes word en op Aäron se skouerstuk en die sak voor sy bors vasgesit moes word.
28. Hulle het ook die speserye en die olie vir die ligstaander, die olie en die wierook gegee.
29. So het elke man en vrou van die Israeliete wat iets vir die Here wou doen en kon help om die goed te maak, vrywillig vir die Here kom gee wat hulle gehad het.