Eksodus 33:7-16 Die Boodskap (DB)

7. Moses het ’n tent ’n hele ent weg van die laer af in die veld opgeslaan. Hy het dit genoem “die tent waar daar vir God raad gevra word”. Elkeen wat by die Here raad gesoek het, het soontoe gegaan.

8. Wanneer Moses na hierdie tent toe gegaan het, het die hele volk by die ingang van hulle tente gaan staan. Hulle het hom agterna gekyk totdat hy in die tent ingegaan het.

9. Sodra Moses in die tent ingegaan het, het die hoë wolk waarin die Here vroeër gedurende die dag voor die volk uitgetrek het, afgesak en oor die ingang van die tent gaan hang. Die Here het dan met Moses gepraat.

10. Wanneer die volk die wolk oor die tent se ingang sien hang, het hulle uitgegaan en by die ingang van hulle tente gekniel en tot die Here gebid.

11. In die tent het die Here met Moses gepraat soos vriende wat met mekaar sit en gesels. Wanneer Moses na die kamp toe teruggekom het, het sy jong helper, Josua die seun van Nun, by die tent agtergebly. Hy het nie daarvandaan af weggegaan nie.

12. Moses het later vir die Here gesê: “U het vir my gesê dat ek die volk van hier af moet laat trek. U sê dan glad nie vir my wie U saam met my sal stuur nie. U het ook vir my gesê dat U my goed ken en dat U van my hou.

13. As dit dan so is, sê asseblief vir my wat u planne is sodat ek kan weet wat U van my wil hê en ek dit kan doen. Hierdie nasie wat ek moet lei, is immers tog u eie volk.”

14. “Moet Ek dan self saamgaan dat jou hart rus kan kry?” vra die Here toe vir Moses.

15. “Asseblief,” sê Moses vir die Here, “as U nie self saamgaan nie, moet U ons glad nie hiervandaan af laat weggaan nie.

16. Waaraan anders sal ons weet of U vir ons omgee of nie? Ons sal dit net weet as U saam met ons gaan. Waaruit anders sal dit duidelik wees dat U anders oor ons voel as oor al die ander volke op aarde?”

Eksodus 33