5. “Iemand kan uit nalatigheid sy weiveld of sy tuin laat kaal vreet het. Hy jaag dan sy vee in ’n ander man se veld in om dit ook te gaan wegvreet. As dit gebeur, moet hy daarvoor vergoed. Hy moet die beste wat sy eie tuin of veld kan oplewer, as boete betaal.
6. As ’n vuur begin versprei het en handuit ruk wanneer die droë doringbosse vlam vat - sodat iemand anders se graan wat nog op die land is, of sy graan wat reeds geoes is en op die land in miedens gepak is, afbrand - moet die persoon wat die vuur laat weghardloop het, die skade dubbel en dwars vergoed.”
7. “As iemand vir ’n ander persoon geld of goed gegee het om vir hom op te pas en dit word dan uit sy huis gesteel, moet die dief dubbel daarvoor vergoed as hy gevang word.
8. As die dief nie gevang word nie, moet die persoon wat dit opgepas het na die plek gaan waar God aanbid word en plegtig voor God verklaar dat dit nie hy was wat die ander man se goed gesteel het nie.
9. “As twee mense aan die stry raak oor wie se bees dit is, of donkie of skaap of klere of goed wat weggeraak het en weer teruggekry is, moet hulle na God se plek toe gaan. God sal wys watter man lieg. Hy moet dan vir die ander man twee maal soveel teruggee as wat die goed werd is waaroor hy gestry het.
23-24. As jy dit doen en hulle kom kla by My en vra My om hulle te help, sal Ek hulle kant kies. Ek sal met woede teen jou losbrand en Ek sal jou in die oorlog laat doodgaan. Jou eie vrou sal dan ’n weduwee word en jou eie seuns ook weeskinders sonder iemand om vir hulle te sorg.
25. “Wanneer jy geld vir arm mense in die volk leen, moet jy nie ook nog vir hulle rente daarop vra nie.
26. As iemand in die loop van die dag sy mantel vir jou as ’n pand gegee het vir iets wat hy by jou geleen het, moet jy dit vir hom teruggee as die son ondergaan.
27. Dit is al wat hy het om homself in die nag mee toe te maak. Onder wat anders kan hy slaap? As jy dit nie doen nie en hy kom kla by My, sal Ek na hom luister, want Ek gee om vir sulke mense.
28. “Moenie God se Naam sleg maak nie. Moenie die leiers van jou volk vloek nie.
29. “Bring alles van jou graan- en druiweoes in berekening wanneer jy my deel bereken. Onthou dat jou oudste seun aan My behoort.
30. Die eerste bees of skaap wat gebore word, kan vir die eerste sewe dae nog by sy ma bly. Op die agtste dag moet jy dit aan My afstaan.
31. Julle moet uitsonderlike mense wees wat met alles wat julle het, vir My lewe. Julle mag nie vleis eet van diere wat deur roofdiere in die veld verskeur is nie. Julle moet dit vir die honde gee om te vreet.”