1. “Wanneer iemand ’n bees of ’n skaap steel om dit te slag of te gaan verkoop, moet hy daarvoor betaal. Hy moet vyf keer soveel betaal as wat die bees werd was. Vir die skaap moet hy vier keer soveel betaal as wat hy werd was.
2-4. Die dief moet elke sent terugbetaal. As hy nie kan betaal nie, moet hy self verkoop word vir die bedrag geld wat hy nog geskuld het. As die bees of die donkie of die skaap wat hy gesteel het, nog lewendig by hom gekry word, moet hy twee keer soveel terugbetaal as wat die dier werd is. As hy op heterdaad betrap word terwyl hy gedurende die nag die diere steel en hy word daar doodgemaak, is dit nie ’n oortreding wat gestraf kan word nie. Wanneer hy egter helder oordag steel en dan gevang en doodgemaak word, is dit ’n strafbare oortreding.”
10. “As iemand ’n donkie of ’n bees of ’n skaap of enige ander vee by iemand los om dit vir hom op te pas en een van die diere vrek terwyl dit by hom is, of dit word beseer of gesteel sonder dat iemand dit sien,
11. moet die man wat die dier opgepas het voor die Here gaan sweer dat dit nie hy was wat die dier gesteel het nie. Die eienaar van die dier moet sy woord aanvaar. Daar word in hierdie geval nie skadevergoeding betaal nie.
12. As die dier egter gesteel is terwyl hy dit kon gekeer het, moet hy die eienaar vergoed.
13. As ’n roofdier die dier gevang het, moet hy die verskeurde dier bring as bewys dat dit gevang is. In hierdie geval hoef daar nie vergoed te word nie.
14. “As ’n persoon iemand anders se dier leen om vir iets te gebruik en die dier kry seer of vrek terwyl sy eienaar nie by is nie, moet die persoon wat die dier geleen het, die eienaar vergoed.
15. As die eienaar wel by was, hoef daar niks betaal te word nie. As hy die dier gehuur het, moet die huurgeld nog steeds betaal word.”
16. “As ’n man ’n jongmeisie verlei wat nog nie verloof was nie, en hy praat haar om om by hom te slaap, moet hy aan haar pa die bruidsprys betaal en met haar trou.
17. As haar pa volstrek weier dat die man met sy dogter trou, moet die man hom ’n bedrag geld gee. Die bedrag is dieselfde as die geld wat betaal word aan ’n pa om sy dogter te kry.
18. “’n Vrou wat haar met toordery ophou, mag nie bly leef nie.
19. Enigeen wat seks met ’n dier het, moet doodgemaak word.