Eksodus 16:22-36 Die Boodskap (DB)

22. Op die sesde dag moes hulle dubbel soveel as gewoonlik bymekaarmaak: vier kilogram vir elkeen. Die leiers het vir Moses kom vra of dit reg is.

23. Hy het vir hulle gesê: “Dit is soos die Here gesê het ons moet maak. Môre is die Here se dag waarop ons moet rus. Julle moet reeds vandag gaarmaak wat julle vir môre nodig gaan hê. Bak vandag wat julle wil bak en kook wat julle wil kook. Wat te veel is vir vandag, moet julle regsit om môre op die rusdag te eet.”

24. Hulle het gemaak soos Moses gesê het hulle moet maak. Hulle het dit vir die sewende dag gebêre. Dit het glad nie sleg geword nie. Daar het ook nie goggas in gekom nie.

25. Moses het vir hulle gesê: “Julle kan dit gerus maar vandag eet, want dit is vandag die Here se rusdag. Julle sal nie vandag enigiets in die veld kry om op te tel nie.

26. Julle moet ses dae lank elke dag daarvan gaan optel. Die sewende dag is die Here se rusdag. Julle sal dan niks daar kry nie.”

27. Daar was nogtans mense wat op die sewende dag uitgegaan het om kos bymekaar te gaan maak. Daar was egter niks om op te tel nie.

28. Die Here het toe vir Moses gevra: “Hoe lank gaan julle nog aanhou weier om te doen wat Ek van julle vra?

29. Julle kan mos sien dat Ek van die rusdag onthou en op die sesde dag sorg dat daar genoeg kos is vir die volgende twee dae. Op die rusdag moet elkeen by sy huis bly. Hy moet nie nog op die sewende dag van sy tent af weggaan om kos te gaan soek nie.”

30. So het die volk dan op die sewende dag gerus.

31. Die Israeliete het hierdie brood “manna” (dit beteken “Wat is dit dié?”) genoem. Dit was wit soos koljandersaad en het gesmaak soos iets met heuning in.

32. Moses het ook gesê: “Die Here het gesê ons moet twee kilogram manna vir die nageslag bewaar. Hulle moet sien watse soort kos die Here vir die Israeliete in die woestyn gegee het om te eet.”

33. Moses het vir Aäron die werk gegee om twee kilogram manna in ’n kleipot te sit. Hy moes dit voor die Here gaan neersit om dit vir die nageslag te bewaar.

34. Soos die Here Moses beveel het, het Aäron dit later in die ark bewaar waarin die bewys van Israel se ooreenkoms met die Here gehou is.

35. Die Israeliete het vir die volgende 40 jaar manna geëet. Dit was hulle kos totdat hulle in Kanaän aangekom het waar hulle kon plant en oes.

36. ’n Kilogram was ’n tiende van die efa-gewigseenheid.

Eksodus 16