Deuteronomium 19:5-15 Die Boodskap (DB)

5. Sê nou maar byvoorbeeld iemand kap hout in ’n bos. Iemand anders is saam met hom. Terwyl hy hout kap, kom sy byl se kop los en tref hierdie ander mens en maak hom dood. In sulke gevalle kan daardie mens na een van hierdie stede vlug. Daar sal hy veilig wees.

6. Die afstand na so ’n stad moenie te groot wees nie, anders maak ’n familielid wat kwaad is oor die persoon wat dood is dalk die onskuldige persoon dood voor hy homself kan beskerm. Dan word die persoon wat die dood van ’n ander veroorsaak het, maar wat self eintlik onskuldig is, doodgemaak sonder dat ’n hof hom skuldig bevind en hom die doodstraf opgelê het.

7. Dis hoekom die Here beveel dat julle drie stede moet uitwys waar sulke mense kan gaan wegkruip totdat die hof oor hulle toekoms besluit het.

8. “Later gaan die Here julle land groter maak en dan gaan julle grense uitgebrei word, presies net soos Hy julle voorvaders belowe het. Dan gaan Hy julle al die grond gee wat Hy julle belowe het.

9. Hy sal julle hierdie hele land gee as julle alles doen wat Hy julle beveel, alles wat ek vir julle gesê het. Wat Hy julle beveel, is dat julle Hom sal liefhê en doen wat Hy julle beveel. Daardie dag moet julle nog drie ander stede aanwys.

10. Op hierdie manier sal julle keer dat onskuldige mense doodgemaak word in die land wat die Here jou God jou as ’n spesiale besitting gee. Anders sal julle skuldig wees aan moord.

11. “Maar sê nou iemand haat ’n ander persoon. En op ’n dag lê hy hierdie persoon êrens in die veld voor en maak hom dood. En sê nou hierdie moordenaar vlug na een van die stede wat julle uitgewys het waarin ’n mens kan gaan skuil.

12. In so ’n geval moet die leiers van die moordenaar se tuisdorp die moordenaar laat haal uit die stad waar hy gaan wegkruip het. Dan moet hulle hom aan die vermoorde persoon se familie gee dat hulle hom kan doodmaak.

13. Julle mag nie daardie moordenaar jammer kry nie! Julle moet die skuld wat moord veroorsaak, uit Israel uitroei. Anders sal dit nie met julle goed gaan nie.”

14. “Jy mag nie in die land wat die Here jou God jou gaan gee iemand se grond steel deur sy grensdrade te verskuif nie. Die eerste mense wat in hierdie land gebly het, het die grenslyne van die grond vasgestel. So het hulle gewys watter grond behoort aan wie.”

15. “Jy mag nooit iemand skuldig bevind aan iets wat hy verkeerd gedoen het as net een mens vertel het dat hy dit verkeerd gedoen het nie. Dit maak nie saak watter slegte daad hy ook al gedoen het nie, ten minste twee of drie mense moes dit gesien het voordat jy hom skuldig kan bevind.

Deuteronomium 19