Daniël 4:21-37 Die Boodskap (DB)

21. Dit het mooi blare en baie vrugte gehad waarvan almal kon eet. Die wilde diere het daar gerus en die voëls het daar nes gemaak.

22. Daardie boom is u, U Majesteit! U het magtig en sterk geword; u roem is selfs in die hemel bekend; u mag strek oor die hele aarde.

23. Terwyl U Majesteit nog besig was om te kyk, het ’n hemelse opsigter, ’n engel uit die hemel, gekom en gesê: ‘Kap die boom tot teen die grond af. Los net die stomp van die boom met sy wortels in die grond met die gras wat daarom groei. Bind dan ’n band van yster en brons om die stomp. Dit sal elke aand op die mens dou omdat hy buite moet slaap en hy sal saam met die diere van plante leef. Hy sal sewe jaar lank nie soos ’n mens dink en reageer nie, maar soos ’n dier.’

24. “Nou sal ek vir U Majesteit die droom se betekenis verduidelik, want dit is wat die allerhoogste God oor u besluit het.

25. U gaan uit die gemeenskap verstoot word sodat u saam met die wilde diere moet gaan bly. Sewe jaar lank sal u gras eet soos ’n bees en in die veld slaap, waar die dou op u sal val. Dan sal u moet erken dat die allerhoogste God oor al die koninkryke van die wêreld regeer en dat Hy die mag kan gee aan wie Hy wil.

26. Die feit dat die engel die opdrag gegee het dat die stomp moet bly staan, beteken dat u weer u koninkryk sal terugkry sodra u geleer het dat die God van die hemel oor alles heers.

27. U Majesteit, luister asseblief na my! Breek met u sonde deur te doen wat reg is en goed te wees vir die armes. Wie weet of u voorspoed nie dalk kan aanhou nie.”

28. Maar al hierdie dinge het wel met koning Nebukadnesar gebeur.

29. Twaalf maande later, terwyl hy op die daktuin van sy paleis in Babel rondgeloop het,

30. het hy oor die stad uitgekyk en gesê: “Kyk net watter asemrowende stad is Babel! Deur my eie mag en krag het ek hierdie hoofstad gebou om vir die wêreld te wys hoe groot en belangrik ek is.”

31. Sy woorde was nog nie behoorlik koud nie, toe sê ’n stem uit die hemel: “Koning Nebukadnesar, so is besluit: jou koninkryk word nou van jou af weggevat.

32. Jy gaan uit die gemeenskap weggedryf word sodat jy saam met die wilde diere in die veld sal leef en gras sal eet soos ’n bees, sewe jaar lank. Dan sal jy erken dat die allerhoogste God oor al die aardse koninkryke heers en dat Hy dit kan gee aan wie Hy wil.”

33. Dit het dadelik gebeur. Nebukadnesar is uit die gemeenskap weggejaag en hy het gras geëet soos ’n bees. Elke nag het die dou hom sopnat gedou. Sy hare het naderhand so lank geword dat dit op sy skouers gehang het en sy naels het soos die kloue van ’n voël gelyk.

34. “Aan die einde van die sewe jaar het ek, Nebukadnesar, na die hemel toe opgekyk. Toe het my verstand weer na my toe teruggekeer. Dadelik het ek die allerhoogste God wat vir altyd lewe, geloof en sy Naam grootgemaak. Ek het gesê: Hy regeer vir ewig. Sy heerskappy sal nooit tot ’n einde kom nie.

35. Die mense op aarde is niks in vergelyking met Hom nie. Hy doen net wat Hy wil met die magte van die hemel en die mense op die aarde. Niemand kan Hom teëstaan of vir Hom vra: ‘Wat doen U?’ nie.

36. “Saam met my verstand het ek ook weer my waardigheid, my eer en my koningskap teruggekry. My raadgewers en my hoofamptenare het my met oop arms terugverwelkom. Hulle het my selfs met meer ontsag behandel as voorheen.

37. “Daarom loof, prys en eer ek, Nebukadnesar, nou die groot Koning van die hemel. Sy optrede is altyd regverdig en alles wat Hy doen, is goed. Hy het die mag om mense te verneder wat te veel van hulleself dink.”

Daniël 4