Daniël 3:17-24 Die Boodskap (DB)

17. Die God wat ons dien, kan ons uit die oond en uit u mag red as Hy wil.

18. En selfs al wil Hy nie, kan u maar seker weet dat ons nooit u gode of die goue beeld wat u laat maak het, sal dien en aanbid nie.”

19. Nebukadnesar het skoon bleek geword van woede vir Sadrag, Mesag en Abednego. Hy het beveel dat die oond sewe maal warmer as gewoonlik gemaak moes word.

20. Daarna het hy van die sterkste soldate beveel om vir Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en hulle in die vuurwarm oond te gooi.

21. Hulle is toe vasgebind en sommer met klere en al in die rooiwarm oond gegooi.

22. Omdat die koning in sy woede opdrag gegee het dat die vuur verskriklik warm gemaak moes word, het die hitte van die oond die soldate verbrand toe hulle die drie in die oond gegooi het.

23. Sadrag, Mesag en Abednego het met toue om hulle lyf in die oond geval.

24. Skielik het Nebukadnesar van verbasing opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Het ons nie net drie mans vasgemaak en in die oond gegooi nie?”“Dit is waar, U Majesteit,” het hulle geantwoord.

Daniël 3