2 Kronieke 25:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Amasia was 25 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het 29 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jehoaddan van Jerusalem.

2. Die Here was tevrede met hom, al het hy Hom halfhartig gedien.

3. Toe hy sy koningskap goed gevestig het, het hy die amptenare doodgemaak wat vir sy pa se dood verantwoordelik was.

4. Maar hy het nie hulle kinders doodgemaak nie. Dit was uit gehoorsaamheid aan die Here se reël wat Moses neergeskryf het en wat lui: “Ouers kan nie oor hulle kinders se optrede of kinders oor hulle ouers s’n doodgemaak word nie. Elkeen kan net vir sy eie sonde veroordeel word.”

5. Amasia het Juda en Benjamin se leër opgeroep. Hy het hulle in groter en kleiner afdelings laat aantree. Die soldate was almal ouer as twintig en vaardig met spies en skild. Daar was 300 000 goeie soldate wat op kommando kon vertrek.

6. Hy het ’n verdere 100 000 soldate teen omtrent drie en ’n half ton silwer van Israel gehuur.

7. ’n Profeet van God het met Amasia kom praat: “O Koning, u moenie die soldate van Israel saamvat op u veldtog nie. Die Here is nie lojaal aan Israel, aan daardie spul Efraimiete nie!

8. Gaan alleen, moenie saam met hulle gaan veg nie, want die Here sal u laat struikel voor die vyand. Onthou, die Here kan ’n mens óf help, óf jou laat struikel.”

2 Kronieke 25