2 Kronieke 24:12-18 Die Boodskap (DB)

12. Koning Joas en Jojada het die geld aan die kontrakteurs uitbetaal wat aangestel is om die tempel te herstel. Die kontrakteurs het klipkappers en skrynwerkers aangestel om die herstelwerk aan die tempel te doen. Hulle het ook metaalsmede aangestel om yster- en bronsvoorwerpe vir die tempel te maak.

13. Die kontrakteurs het hulle goed van hulle taak gekwyt. Die werk het vinnig gevorder en die tempel is tot sy oorspronklike glorie herstel.

14. Toe hulle klaar was, het die kontrakteurs die geld wat oorgebly het, vir Joas en Jojada teruggebring. Dit is gebruik om ’n klomp spesiale voorwerpe vir die tempel te laat maak. Die voorwerpe is in die erediens en die offerdiens gebruik: panne en gereedskap van goud en silwer. So lank as wat Jojada die priester geleef het, is daar gereeld brandoffers in die tempel van die Here gebring.

15. Jojada het baie oud geword en is uiteindelik in die ouderdom van 130 oorlede.

16. Hy is tussen die konings in die Dawidstad begrawe, want hy het vir Israel, vir God en vir die tempel baie beteken.

17. Ná Jojada se dood het die leiers van Juda vir Joas besoek en voor hom neergebuig. Hulle het hom oortuig om van nou af húlle raad te volg.

18. Hulle het besluit om die tempel van die Here, die God van hulle voorouers, te verwaarloos. Hulle het pale wat ter ere van die afgod Asjera opgerig is, saam met ander afgodsbeelde begin vereer. Hieroor was die Here woedend vir Juda en Jerusalem.

2 Kronieke 24