2 Konings 9:10-18 Die Boodskap (DB)

10. Die honde sal Isebel se lyk op die plein in Jisreël vreet en niemand sal haar begrawe nie.’”Nadat hy alles gesê het, het die jongman die deur oopgemaak en gevlug.

11. Jehu het teruggegaan na die ander offisiere toe. Iemand het vir hom gevra: “Wat gaan aan? Wat wou hierdie kranksinnige kêrel by jou hê?” Jehu het geantwoord: “Julle weet tog almal hoe hierdie mense kan onsin praat!”

12. “Nee, jy lieg! Vertel vir ons wat hy gesê het,” het hulle aangedring.Jehu het toe vir hulle gesê: “Hy het vir my gesê: ‘Die Here sê: Ek salf jou tot koning oor Israel.’”

13. Hulle het dadelik hulle klere as ’n eerbewys op die trappe voor hom neergesit. Toe laat hulle iemand op die ramshoring blaas en almal het geskree: “Jehu is koning!”

14. Jehu het toe planne begin beraam om Joram se bewind omver te werp. Joram se magte was by Ramot in Gilead saamgetrek om die stad teen ’n aanval van die Arameërs te beskerm.

15. Koning Joram self is egter in die gevegte gewond en moes na Jisreël teruggaan om te herstel. Jehu het gesê: “As julle my steun, sorg dan dat niemand hier uit Ramot vlug om die nuus van wat ons doen in Jisreël te gaan vertel nie.”

16. Jehu het toe op sy strydwa geklim en na Jisreël toe gejaag. Joram was nog in die bed waar Ahasia hom besoek het.

17. ’n Wag op een van die torings het die klomp mense sien aankom en laat weet: “Hier kom ’n klomp mense aan.”Joram het beveel: “Stuur iemand te perd om te gaan vra of hulle in vrede kom.”

18. Toe die perderuiter by Jehu-hulle kom, sê hy: “Die koning vra of julle in vrede kom.”Jehu het geantwoord: “Wat praat jy van vrede? Val agter my in!” Die wag het vir Joram laat weet: “Die ruiter het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie!”

2 Konings 9