1. Die weduwee van een van Elisa se medeprofete het baie mooi vir Elisa gevra om haar te help. Sy het gesê: “My man, wat vir u gewerk het, is dood. U weet self dat hy die Here getrou gedien het. Maar nou was die skuldeiser by my. Hy dreig om my twee seuns vir hom as slawe te neem.”
2. “Wat kan ek vir jou doen?” het Elisa gevra. “Vertel my wat jy in die huis het.”Sy het geantwoord: “Ek het net mooi niks oor nie. Net ’n flessie olyfolie.”
3. Elisa sê toe: “Gaan leen by al jou bure soveel leë kanne as wat jy kan kry. Moenie te min leen nie.
4. Maak dan die deur agter jou en die seuns toe en maak al die kanne vol olie. Sit die volles eenkant neer.”
5. Sy het presies gedoen wat Elisa gesê het. Die seuns het die kanne aangegee en sy het dit volgemaak.
6. Toe al die kanne vol was, het sy gesê: “Gee nog een aan,” maar haar seun het geantwoord: “Daar is nie meer nie!” Net toe het die olie opgehou vloei.
7. Die weduwee het vir Elisa gaan vertel wat gebeur het. Hy sê toe vir haar: “Gaan verkoop nou die olie. Betaal jou skuld af en gebruik die geld wat oor is om jou en jou seuns te onderhou.”
8. Op ’n dag het Elisa deur die dorp Sunem gereis. ’n Vooraanstaande vrou van die dorp het by hom aangedring om iets by haar huis te kom eet. Daarna het dit elke keer gebeur. Wanneer hy in die dorp was, het hy by haar iets gaan eet.
9. Eendag het sy vir haar man gesê: “Weet jy, ek is seker die besoeker wat dikwels hier by ons kom eet, is ’n spesiale boodskapper van God.
10. Kom ons bou vir hom ’n dakkamer op die huis. Ons kan dit mooi inrig met ’n paar stukkies meubels, soos ’n bed, tafel, stoel en ’n lamp. Dan kan hy, wanneer hy ook al hier aankom, by ons oorbly.”