6. Ná Jojakim se dood het sy seun Jojagin in sy plek koning geword.
7. Die koning van Egipte het na dié tyd nooit weer buite Egipte opgetree nie, want die koning van Babel het die hele gebied tussen die Egiptespruit en die Eufraatrivier beset wat voorheen deur Egipte beheer is.
8. Jojagin was agtien toe hy koning geword het en hy het drie maande lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Negusta, ’n dogter van Elnatan uit Jerusalem.
9. Die Here was nie tevrede met wat Jojagin gedoen het nie. Hy het sy pa se swak voorbeeld gevolg.
10. In dié tyd het die leër van Nebukadnesar, die koning van Babel, Jerusalem aangeval en van die buitewêreld afgesny.
11. Toe Nebukadnesar self by die stad aankom,
12. het Jojagin oorgegee. Hy en sy ma, die koningin-moeder, en sy lyfwag, sy belangrikste amptenare en offisiere het uitgegaan en hulle is gevang. Dit was in die agtste jaar wat Nebukadnesar regeer het.
13. Net soos die Here vroeër gesê het, het die koning van Babel Jerusalem beroof. Hy het al die skatte in die tempel en die paleis bymekaargemaak. Hy het ook die goud afgehaal van die voorwerpe wat koning Salomo jare tevore reeds vir die tempel laat maak het.
14. Nebukadnesar het ook die mense van Jerusalem weggeneem. Hy het 10 000 mense gevang en as gevangenes weggevoer: die amptenare en beste soldate, maar ook die vakmanne wat hy kon gebruik. Net die armste mense het in die land agtergebly.
15. Nebukadnesar het koning Jojagin, sy ma en sy vroue en al die belangrike mense van Jerusalem na Babel toe weggeneem.
16. Hy het ook 7 000 soldate en 1 000 vakmanne saamgeneem, almal fiks en bruikbaar in sy leër.
17. Hy het toe vir Mattanja, ’n oom van Jojagin, in Jerusalem koning gemaak en sy naam verander na Sedekia.