2 Konings 21:6-16 Die Boodskap (DB)

6. sy seun in die vuur geoffer;goëlery, waarsêery en towerkunsies beoefen; die toekoms voorspel deur geeste op te roep.Hy het verskriklike dinge gedoen wat die Here baie kwaad gemaak het.

7. Een van die dinge is dat hy die Asjerastomp wat hy laat maak het, binne-in die Here se tempel laat opsit het. Dit is die plek waarvan die Here jare tevore al vir Dawid en Salomo gesê het: “Ek kom woon vir altyd hier in Jerusalem en in dié tempel. Ek het dié plek uitgesoek tussen al die plekke waar daar Israeliete woon. Ek bly daar vir altyd.

8. As die Israeliete alles doen wat Ek vra en optree volgens die wet wat hulle by Moses, my boodskapper, geleer het, sal Ek hulle vir altyd hier in die land laat woon wat Ek vroeër al vir hulle oupas en oumas gegee het.”

9. Maar hulle het dit nie gedoen nie. Manasse het hulle mislei om dinge te doen wat erger was as die goed wat die volke gedoen het wat vir die Israeliete plek moes maak toe hulle in die land kom woon het.

10. Die Here het toe deur die profete wat vir Hom gewerk het, gesê:

11. “Koning Manasse van Juda het verskriklike dinge gedoen. Hy is selfs slegter as die Amoriete wat voor die Israeliete in die land gewoon het. Hy het sy mense geleer om goed te vereer wat nie gode is nie.

12. Daarom het die Here besluit:Ek gaan sulke verskriklike dinge met Jerusalem en Juda laat gebeur dat mense wat dit hoor, nie sal kan glo wat hulle hoor nie;

13. Ek sal met Jerusalem doen wat Ek met Samaria en met die koningshuis van Agab gedoen het;Ek sal Jerusalem uitvee soos ’n mens met ’n vuil skottel maak en hom omkeer;

14. Ek sal die paar mense wat van my volk oorbly, aan hulle vyande oorgee om besteel en uitgeroei te word,

15. omdat hulle aangehou het om verkeerde dinge te doen. Hulle het My bly uitdaag sedert hulle oupas en oumas uit Egipte weg is en hulle doen dit vandag nog steeds.”

16. Manasse het bo en behalwe die verkeerde dinge wat hy Juda laat doen het en waaroor die Here so kwaad was, ook nog onskuldige mense laat vermoor. In Jerusalem het die bloed vrylik gevloei.

2 Konings 21