25. “Wéét jy dan nie, Sanherib? Het jy nie gehoor nie? Ék het dié dinge baie lank gelede al beplan. Nou het Ek dit alles laat gebeur: Jy moes vestingstede aanval en verwoes,
26. daarom was hulle inwoners so kwesbaar en onvoorbereid op wat hulle sou tref soos grassprietjies wat bo-op ’n dak opslaan en dadelik doodgaan as die son skyn.
27. “Sanherib, Ek ken jou baie goed. Ek weet presies wat jy doen.
28. Ek weet selfs hoe jy teen My geraas en gevloek het. Daarom sal Ek jou met ’n ring deur die neus versier soos ’n koning wat verloor het en ’n toom in jou bek sit en jou op dieselfde pad terugjaag as waarlangs jy hierheen gekom het!”
29. Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Hier is ’n teken vir jou: dié jaar sal julle net die koring kan eet wat self opslaan. Volgende jaar sal dit weer so wees, maar in die derde jaar sal julle self kan saai en oes. Julle sal weer wingerde kan plant en druiwe eet.
30. Dié van julle wat die aanval oorleef het, sal dan weer normaal kan aangaan.
31. Daar sal beslis oorlewendes uit Jerusalem kan uitgaan. Daarvoor sal die Here wat die Groot Bevelvoerder is, se groot liefde sorg.
32. “Hier is die Here se boodskap oor die koning van Assirië: hy sal Jerusalem nie aanval of beleër nie. Hy sal nie eers ’n pyl na die stad toe skiet of probeer om in die stad in te kom nie.
33. Hy sal met dieselfde pad teruggaan as die een waarmee hy hierheen gekom het. En hy sal Jerusalem nooit ingaan nie, want die Here sê:
34. ‘Ek sal die stad oppas en red ter wille van die goeie verhouding wat daar tussen My en Dawid was.’”
35. Daardie nag het die Here 185 000 Assiriese soldate laat doodgaan. Toe die res die volgende oggend wakker word, was daar net lyke rondom hulle.
36. Sanherib het onmiddellik sy kamp afgebreek en na sy hoofstad Nineve toe teruggegaan en daar gebly.
37. Terwyl hy op ’n dag in sy god Nisrok se tempel besig was om te bid, het twee van sy seuns, Adrammelek en Sareser, hom vermoor. Hulle twee het toe na die Araratgebied gevlug en ’n ander seun, Esarhaddon, het hom as koning opgevolg.