2 Konings 19:19-29 Die Boodskap (DB)

19. Ag, Here! Red ons tog uit die koning van Assirië se mag. As U dit doen, sal al die regerings op aarde weet dat U die enigste God is.”

20. Jesaja het toe vir Hiskia laat weet: “Die Here sê Hy het gehoor wat jy Hom oor Sanherib, die Assiriese koning, gevra het.

21. Hier is die Here se antwoord oor Sanherib: Jerusalem verag jou en lag jou uit, skud die kop minagtend as jy wegvlug.

22. Wie dink jy het jy belaster en bespot?“Dit was die Heilige Een van Israel!

23. “Deur jou boodskappers het jy gespog en gesê: ‘Ék het die hoogste berge, die verste pieke van die Libanon oorwin, ek het die heel hoogste seders en die heel mooiste sipresbome afgekap en tot in die diepste woude ingedring.

24. ‘Ék het in vreemde lande putte gegrawe en die water gedrink, in Egipte riviere opgedam en met droë voete daardeur geloop.’

25. “Wéét jy dan nie, Sanherib? Het jy nie gehoor nie? Ék het dié dinge baie lank gelede al beplan. Nou het Ek dit alles laat gebeur: Jy moes vestingstede aanval en verwoes,

26. daarom was hulle inwoners so kwesbaar en onvoorbereid op wat hulle sou tref soos grassprietjies wat bo-op ’n dak opslaan en dadelik doodgaan as die son skyn.

27. “Sanherib, Ek ken jou baie goed. Ek weet presies wat jy doen.

28. Ek weet selfs hoe jy teen My geraas en gevloek het. Daarom sal Ek jou met ’n ring deur die neus versier soos ’n koning wat verloor het en ’n toom in jou bek sit en jou op dieselfde pad terugjaag as waarlangs jy hierheen gekom het!”

29. Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Hier is ’n teken vir jou: dié jaar sal julle net die koring kan eet wat self opslaan. Volgende jaar sal dit weer so wees, maar in die derde jaar sal julle self kan saai en oes. Julle sal weer wingerde kan plant en druiwe eet.

2 Konings 19