1 Samuel 26:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Daar het mense van Sif af na Saul toe in Gibea gekom en vir hom gesê: “U weet seker dat Dawid daar op die Gakilarant, oorkant die Jeshimonwoestyn wegkruip?”

2. Saul het toe alles agtermekaar gekry en afgegaan na die Sifwoestyn met drie groepe van die beste manne van Israel om na Dawid te gaan soek.

3. Saul het langs die pad op die Gakilarant kamp opgeslaan wat oorkant die Jeshimonwoestyn lê. Dawid was nog in die woestyn en toe hy sien Saul kom soek dáár ook na hom,

4. het hy verkenners uitgestuur en presies uitgevind waar Saul is.

5. Dawid het toe self na die plek gegaan waar Saul se kamp is en gesien waar Saul en generaal Abner, Ner se seun, slaap. Die manskappe het in ’n kring gelê en slaap, met Saul in die middel.

6. Agimelek, die Hetiet, en Abisai, Joab se broer (hulle was Seruja se seuns), was by Dawid. Hy vra toe vir hulle: “Wie sal saam met my na Saul toe gaan in die kamp?”“Ék sal saam met jou gaan,” antwoord Abisai.

7. Toe dit pikdonker is, sluip Dawid en Abisai by die manskappe verby, en jou waarlik, daar lê Saul vas aan die slaap met Abner en die manskappe in ’n kring om hom. Sy spies is by sy kop in die grond gesteek.

8. “God het vannag jou vyand in jou mag gegee,” fluister Abisai vir Dawid. “Laat ek hom nou met een hou met die spies deurboor. Net een steek sal genoeg wees.”

9. “Nee, moenie hom doodmaak nie,” fluister Dawid vir Abisai. “Iemand wat sy hand teen die Here se gesalfde oplig, sal nie ongestraf bly nie.

10. So waar as die Here leef, die Here self sal Saul laat doodgaan: wanneer sy tyd kom, sal hy ’n natuurlike dood sterf, of hy sal in ’n geveg omkom.

1 Samuel 26