1 Kronieke 19:7-17 Die Boodskap (DB)

7. Hulle het 32 000 strydwaens gehuur en die steun van die koning van Maäka gewerf. Hy het met sy soldate buite Medeba kamp opgeslaan, terwyl die Ammoniete uit hulle dorpe saamgetrek het om reg te maak vir die oorlog.

8. Toe Dawid dit hoor, het hy Joab met sy leër van helde gestuur om te gaan veg.

9. Die Ammoniete het by die stadspoort gereed gestaan en die ander konings het hulle magte buite in die veld opgestel.

10. Joab het besef dat hy nou aan twee fronte sou moes veg. Hy het toe die beste vegters uitgesoek en hulle teenoor die Arameërs opgestel.

11. Die res het hy onder bevel van sy broer Abisai geplaas. Hulle moes teen die Ammoniete veg.

12. Hy het vir Abisai gesê: “As die Arameërs te sterk is vir my, moet jy my kom help. As die Ammoniete te sterk is vir jou, sal ek jou kom help.

13. Veg dapper! Laat ons dapper wees om ons volk en die stede van ons God te kan beskerm. En mag die Here se wil geskied!”

14. Joab en sy manne het die Arameërs aangeval. Die Arameërs het geswig en gevlug.

15. Toe die Ammoniete dit sien, het hulle ook voor sy broer Abisa gevlug en in die stad gaan wegkruip. Joab het toe na Jerusalem teruggegaan.

16. Die Arameërs het besef dat Israel hulle verslaan het. Hulle het toe dringend versterkings aangevra. Sobak, die bevelvoerder van Hadad-Eser se leër, het dadelik met soldate van oorkant die Eufraatrivier af kom help.

17. Dawid het dit gehoor en die hele Israel vir oorlog opgeroep. Hulle het deur die Jordaanrivier getrek en die Aramese leër daar ontmoet. Dawid het sy soldate vir die geveg opgestel. Toe het die Arameërs aangeval.

1 Kronieke 19