10. Wanneer Timoteus daar opdaag, moet julle hom gasvry ontvang. Laat hom tuis voel en kyk mooi na hom, want hy werk hard vir die Here, net soos ek.
11. Niemand moet hom verkleineer nie. Julle moet hom eerder help om sonder probleme in vrede te reis sodat hy weer na my toe kan kom. Ek verwag hom saam met die ander broers.
12. Ek het mooi met Apollos gepraat en gevra dat hy saam met die ander broers na julle toe moet gaan. Hy kon egter nie nou gaan nie en daarom het hy nee gesê. Sodra hy kans kry, sal hy wel gaan.
13. Wees wakker in die lewe en moenie toelaat dat iemand julle geestelik van balans af gooi nie, want julle glo mos. Moenie soos bangbroeke wees nie, maar staan julle man.
14. Doen alles wat julle doen met liefde.
15. Ek wil julle nog iets vra, my broers en susters. Julle onthou mos nog vir Stefanas. Hy en sy huisgesin was die eerste mense in Suid-Griekeland wat Christene geword het.
16. Hulle was van die begin af meer as gewillig om mede-Christene te help waar hulle kan. Sulke mense se voorbeeld moet julle volg en almal wat saam met hulle vir die Here woel en werskaf.
17. Ek was bly toe Stefanas, Fortunatus en Agaïkus hier aangekom het. Dit het sommer baie gehelp vir my verlange na julle almal.
18. Hulle het vir my net so baie beteken as vir julle. Sulke mense moet julle waardeer.
19. Die gemeentes hier in Asië stuur vir julle groete. Akwila en Priscilla saam met almal wat in hulle huis bymekaarkom, stuur spesiaal vir julle as mede-Christene baie liefde.
20. Al die gelowiges het my gevra om hulle groete oor te dra. Groet mekaar opreg en hartlik soos Christene dit behoort te doen.