8. Wel, God het mos nie die man uit die vrou gemaak nie, maar die vrou uit die man.
9. Die man is nie gemaak omdat daar ’n vrou was nie, maar die vrou omdat daar ’n man was.
10. Daarom moet die vrou iets op haar kop dra om so te wys sy respekteer haar man. Selfs die hemelse wesens, die engele, sal dit kan sien. Noudat ons Christene is wat die Here dien, moet ons nie te veel argumenteer oor wie nou juis die belangrikste is, die man of die vrou, nie.
11. Die man het die vrou nodig en die vrou die man.
12. Dat dit so is, kan ons in die natuur sien. Net soos die eerste vrou uit die man geneem is, so word mans nou uit vroue gebore. Agter al hierdie dinge staan God self, want dit is Hy wat mans en vroue maak.
13. Werk dit nou vir julleself uit: Is dit reg vir ’n vrou om met God te praat terwyl sy geen respek vir haar man het nie en dit wys deur nie ons gebruik te respekteer en iets op haar kop te sit nie?
14. Sê julle gevoel nie ook vir julle dat ’n man wat lang hare dra hom belaglik maak,
15. terwyl dit weer vir ’n vrou ’n pragtige versiering is nie? God het haar hare juis vir haar gegee om haar kop mooi toe te maak.
16. As iemand nou hieroor wil stry, is my antwoord dat dit is hoe ons dinge doen. Nou bedoel ek nie net ons nie, maar al die ander Christene ook.
17. Ek het nog iets om met julle te bespreek, maar dit is nie vir my so lekker nie, want hier is julle op die verkeerde pad en ek moet dit ongelukkig vir julle sê. As julle as gemeente bymekaarkom, bring dit die slegste in julle na vore in plaas van die beste.
18. Ek hoor byvoorbeeld dat as julle veronderstel is om as gemeentelede saam te wees, julle groepe vorm wat elkeen sy eie ding doen. Soos ek julle ken, weet ek dat wat ek gehoor het nie sommer praatjies is nie. Die gedwarstrekkery is nie net sleg nie.