1 Konings 7:23-34 Die Boodskap (DB)

23. Hierna het Hiram al sy aandag aan die bronswaterbak gewy. Hierdie waterbak was heeltemal rond, vyf meter in deursnee, twee en ’n half meter hoog, en met ’n omtrek van vyftien meter.

24. Net onder die waterbak se rand was daar twee rye kalbasse wat reg rondom geloop het en wat saam met die waterbak uit een stuk gegiet is.

25. Die waterbak het op twaalf bronsbeeste se rûe gerus. Drie het na die noorde, drie na die weste, drie na die suide en drie na die ooste toe gekyk.

26. Die waterbak se kante was ongeveer nege sentimeter dik. Sy rand was soos die rand van ’n beker en in die vorm van die kelk van ’n lelie. Dit kon 44 kiloliter hou.

27. Hiram het tien waentjies van brons gemaak. Elke waentjie was twee meter lank, twee meter breed en een en ’n half meter hoog.

28. Hy het vir elke waentjie sypanele gemaak wat die raamwerk moes bedek.

29. En op die sypanele was daar leeus, beeste en gerubs. Bo en onder die leeus en die beeste het kettinkies in reliëf gehang.

30. Elke waentjie het vier bronswiele met bronsasse gehad. Op elke waentjie was daar ’n staander waarop ’n waskom kon rus. En al die staanders is met kransies versier.

31. Elke staander het ’n ronde opening gehad waarin die waskom kon inpas. Dit was amper ’n meter diep en breed. Rondom die opening was daar allerlei graveerwerk. Die waentjies se sypanele was vierkantig en nie rond nie.

32. Die waentjies se vier wiele was onder die sypanele en die wielasse was aan die waentjie vas. Elke wiel was ’n meter hoog.

33. Die wiele was soos die wiele van ’n strydwa. Dit beteken dat hulle asse, vellings, speke en nawe alles van brons gemaak is.

34. Die vier stutte aan elke waentjie se vier hoeke is saam met die waentjie gegiet en het ’n geheel daarmee gevorm.

1 Konings 7