Rigters 3:13-24 Bybel vir Almal (ABA)

13. Eglon het die Ammoniete en Amalekiete saam met hom gebring, en hy het die stad Jerigo oorwin, die stad waar baie palmbome gegroei het.

14. Die Israeliete het koning Eglon van Moab 18 jaar lank gedien.

15. Hulle het tot die Here gebid en gevra dat Hy hulle moet help. Die Here het toe vir die Israeliete ’n redder gestuur om hulle te red. Die redder was Ehud. Hy was die seun van Gera, ’n Benjamin-man.Ehud was links. Die Israeliete het hom gestuur om die belasting vir koning Eglon van Moab te bring.

16. Ehud het toe vir homself ’n swaard gemaak, die swaard se lem was altwee kante skerp. Dit was ’n kort swaard. Ehud het die swaard op sy regter-heup aan sy belt vasgemaak onder sy klere.

17. Toe het Ehud die belasting vir koning Eglon van Moab gebring. Eglon was baie vet.

18. Toe Ehud die belasting klaar vir die koning gegee het, het hy die mense teruggestuur wat die belasting-geld gedra het.

19. Hyself het omgedraai by die beelde naby Gilgal. Hy het teruggegaan na die koning toe en vir hom gesê: “Koning, ek moet vir jou iets sê, maar dit is ’n geheim.”Die koning het toe gesê almal wat by hom was, moet uitgaan. Hulle het dit gedoen.

20. Die koning was in sy koel bo-kamer waar ander mense gewoonlik nie gekom het nie. Ehud het vir die koning gesê: “Ek bring vir jou ’n boodskap van God.”Toe die koning opstaan van sy stoel,

21. het Ehud met sy linker-hand die swaard van sy regter-heup gevat. Hy het dit so diep in die koning se maag gesteek

22-23. dat die vet die swaard toegemaak het. Ehud het nie die swaard weer uitgetrek nie. Hy het die deur van die bo-kamer gesluit en deur ’n venster geklim, en hy het by die voordeur uitgegaan.

24. Nadat Ehud weggegaan het, het die amptenare van die koning gekom en gesien die deur van die bo-kamer is toe. Hulle het gedink die koning sit op die toilet in die koel kamer.

Rigters 3