Numeri 14:22-31 Bybel vir Almal (ABA)

22. hierdie mense het gesien dat Ek die Koning is, hulle het die tekens gesien wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, maar hulle het My tien maal getoets en hulle het nie na My geluister nie.

23. Daarom sal nie een van hulle die land sien wat Ek aan hulle voorvaders belowe het nie. Nie een van die mense wat gewys het dat Ek nie vir hulle belangrik is nie, sal die land sien nie.

24. Maar my dienaar Kaleb was anders, hy het aangehou om in My te glo. Ek sal hom na die land bring waarnatoe hy gegaan het, en die land sal aan sy nageslag behoort.

25. Die Amalekiete en die Kanaäniete woon in die lae deel van die land. Julle moet môre wegdraai en verder in die woestyn ingaan op die pad na die Riet-see.”

26. Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

27. “Hierdie slegte volk hou aan om My te beskuldig. Ek het gehoor dat die Israeliete My beskuldig,

28. en julle moet vir hulle sê: So seker soos Ek lewe, Ek het gehoor wat julle gewens het, en dit is wat Ek sal laat gebeur:

29. Julle dooie liggame sal in hierdie woestyn lê, almal wie se name in die boek geskryf is, almal wat ouer as 20 jaar is en wat My beskuldig het.

30. Ek het belowe dat julle in daardie land sal woon, maar julle sal nie daar kom nie, net Kaleb seun van Jefunne en Josua seun van Nun sal daar kom.

31. En julle kinders? Julle het gesê dat die vyande hulle sal vat. Maar Ek sal húlle daar bring, húlle sal die land ken wat vir júlle nie belangrik was nie.

Numeri 14