Numeri 14:14-29 Bybel vir Almal (ABA)

14. Die Egiptenaars sal praat met die mense wat in hierdie land woon. Hulle het gehoor dat U, die Here, by hierdie volk is en dat U self aan hulle verskyn. Hulle het gehoor dat U hulle in die dag lei met ’n wolk bokant hulle en in die nag met vuur.

15. As U nou die hele volk laat sterf, dan sal die volke wat van U gehoor het, sê:

16. ‘Die Here was nie sterk nie, Hy kon nie hierdie volk in die land bring wat Hy vir hulle belowe het nie, daarom het Hy hulle in die woestyn laat sterf.’

17. Daarom, Here, U moet asseblief nou wys dat U sterk is. U het self gesê:

18. ‘Ek, die Here, is geduldig en vol liefde, Ek vergewe mense wanneer hulle sonde doen en opstandig is, maar Ek sê nie iemand is onskuldig wanneer hy skuldig is nie, Ek straf die nageslag oor die sondes van hulle voorvaders, Ek straf hulle tot in die derde en vierde geslag.’

19. U is altyd vol liefde. U het hierdie volk se sondes vergewe van die tyd toe hulle weggegaan het uit Egipte tot nou toe. U vergewe hulle sondes tot in die derde en vierde geslag. Vergewe hulle asseblief nou ook.”

20. Die Here het gesê: “Ek vergewe hulle soos jy gevra het,

21. maar so seker soos Ek lewe, so seker soos Ek Koning is van die hele aarde,

22. hierdie mense het gesien dat Ek die Koning is, hulle het die tekens gesien wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, maar hulle het My tien maal getoets en hulle het nie na My geluister nie.

23. Daarom sal nie een van hulle die land sien wat Ek aan hulle voorvaders belowe het nie. Nie een van die mense wat gewys het dat Ek nie vir hulle belangrik is nie, sal die land sien nie.

24. Maar my dienaar Kaleb was anders, hy het aangehou om in My te glo. Ek sal hom na die land bring waarnatoe hy gegaan het, en die land sal aan sy nageslag behoort.

25. Die Amalekiete en die Kanaäniete woon in die lae deel van die land. Julle moet môre wegdraai en verder in die woestyn ingaan op die pad na die Riet-see.”

26. Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

27. “Hierdie slegte volk hou aan om My te beskuldig. Ek het gehoor dat die Israeliete My beskuldig,

28. en julle moet vir hulle sê: So seker soos Ek lewe, Ek het gehoor wat julle gewens het, en dit is wat Ek sal laat gebeur:

29. Julle dooie liggame sal in hierdie woestyn lê, almal wie se name in die boek geskryf is, almal wat ouer as 20 jaar is en wat My beskuldig het.

Numeri 14