Nehemia 9:26-31 Bybel vir Almal (ABA)

26. “Maar hulle was hardkoppig, hulle was opstandig teen U. Hulle wou nie doen wat U wil hê nie. U profete het hulle gewaarsku en het gesê hulle moet terugkom na U toe, maar hulle het die profete doodgemaak. Hulle het vir U beledig.

27. “U het hulle vyande laat wen teen hulle, die vyande het hulle laat swaarkry. En toe hulle swaarkry, het hulle na U geroep en gevra dat U hulle moet help. U was in die hemel en U het geluister. U is altyd goed vir mense wat swaarkry. Daarom het U mense gestuur wat hulle gered het van hulle vyande.

28. Maar toe hulle al hulle vyande oorwin het, het hulle weer verkeerde dinge gedoen. U het hulle vyande laat wen teen hulle, en die vyande het oor hulle regeer. Hulle het weer na U geroep en gevra dat U hulle moet help. U was in die hemel en U het geluister, U het hulle gered, want U is goed vir mense wat swaarkry. U het dit baie maal gedoen.

29. U het hulle gewaarsku en gesê hulle moet weer doen wat U wil hê, maar hulle wou nie. Hulle wou nie doen wat U wil hê nie. Hulle het sonde gedoen teen u wette, wette wat ’n mens laat lewe het as jy doen wat die wette sê. Hulle was hardkoppig en opstandig, hulle het nie geluister nie.

30. U was geduldig met hulle, baie jare lank. U het u Gees vir die profete gegee en U het die profete gestuur om hulle te waarsku. Maar hulle het nie geluister nie, en U het die ander volke van die land laat wen teen hulle.

31. Maar U is goed vir mense wat swaarkry, U het hulle nie almal laat sterf nie. U het hulle nie gelos nie, want U is ’n God wat genadig is en wat goed is vir mense wat swaarkry.

Nehemia 9