Matteus 26:6-19 Bybel vir Almal (ABA)

6. Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse man.

7. Daar kom toe ’n vrou na Jesus toe. Sy het ’n mooi klip-kruikie gehad en in die kruikie was daar baie duur lekkerruik-olie. Sy het die olie op Jesus se kop uitgegooi terwyl Hy by die tafel gesit en eet het.

8. Toe die dissipels dit sien, het hulle kwaad geword daaroor en hulle het gesê: “Hoekom mors sy die olie?

9. Sy kon dit verkoop het en baie geld gekry het. Dan kon sy die geld vir die arm mense gegee het.”

10. Jesus het geweet wat hulle gesê het, en daarom het Hy vir sy dissipels gesê: “Hoekom pla julle die vrou? Sy het vir My iets gedoen wat goed is.

11. Die arm mense is altyd by julle, maar Ek sal nie altyd by julle wees nie.

12. Die vrou het nou die lekkerruik-olie oor My gegooi, en sy het dit gedoen sodat my liggaam gereed kan wees wanneer hulle My begrawe.

13. Ek sê vir julle, en dit is seker: Oral in die wêreld waar die mense hierdie goeie boodskap bring, sal hulle ook praat oor hierdie vrou en wat sy gedoen het. Die mense sal haar onthou.”

14. Een van die twaalf dissipels se naam was Judas Iskariot. Hy het na die priesterleiers toe gegaan

15. en gevra: “Wat sal julle vir my gee as ek julle help om Jesus te vang?”Die priesterleiers het toe vir Judas 30 silwer geldstukke betaal.

16. Van toe af het hy ’n plan probeer maak en hy het gewag vir die regte tyd om Jesus te verraai.

17. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood, het Jesus se dissipels na Hom toe gekom en vir Hom gevra: “Waar wil U hê moet ons gaan gereedmaak sodat U die Paas-ete kan eet?”

18. Jesus het gesê hulle moet in Jerusalem na ’n man toe gaan en vir hom sê: “Ons Meneer sê: ‘My tyd is naby. Ek en my dissipels wil die Paas-ete in jou huis eet.’ ”

19. Die dissipels het gedoen wat Jesus vir hulle gesê het en hulle het alles gereedgemaak vir die Paas-ete.

Matteus 26