34. Jesus het vir hom gesê: “Ek sê vir jou, en dit is seker: Jy sal in hierdie nag drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan vannag kraai.”
35. Maar Petrus het gesê: “As ek saam met U moet sterf, dan sal ek sterf, maar ek sal nooit sê dat ek U nie ken nie.”Al die ander dissipels het dieselfde gesê.
36. Jesus en sy dissipels kom toe by ’n plek, Getsemane, en Jesus sê vir hulle: “Sit hier, Ek wil daar gaan bid.”
37. Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam met Hom geneem. Jesus het baie hartseer en bang geword.
38. Hy het vir hulle gesê: “Ek voel baie hartseer. Bly hier en bly wakker saam met My.”
39. Jesus het ’n bietjie verder geloop en Hy het met sy gesig teen die grond gaan lê en aangehou bid: “My Vader, as U dit wil doen, neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.”
40. Jesus het teruggekom na die drie dissipels toe en toe sien Hy hulle slaap. Hy het vir Petrus gevra: “Hoekom kon julle nie een uur saam met My wakker bly nie?
41. Julle moet wakker wees en bid dat niks sal gebeur wat julle sal laat sonde doen nie. Die mens se gees wil graag doen wat reg is, maar die mens self is te swak om reg te doen.”
42. Jesus het weer, vir die tweede maal, weggegaan en gebid: “My Vader, as U nie hierdie swaarkry wil wegneem van My nie, as Ek hierdie beker moet drink, dan moet U doen wat U wil hê.”
43. Toe Jesus terugkom, het Hy weer gesien die drie dissipels slaap, hulle kon nie wakker bly nie.
44. Jesus het weer weggegaan van hulle. Hy het die derde maal gaan bid en Hy het dieselfde woorde gesê.
45. Toe Jesus die derde maal by die dissipels kom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Kyk, dit is nou die tyd wanneer iemand My, die Seun van die mens, sal verraai, sodat sondaars My kan vang.
46. Staan op, ons moet gaan. Die man wat My sal verraai, is hier naby.”
47. Judas het daar aangekom terwyl Jesus gepraat het. Judas was een van die twaalf dissipels. Daar was ’n groot klomp mense saam met hom. Hulle het swaarde en stokke by hulle gehad. Die priesterleiers en die familieleiers van die volk het hulle gestuur.
48. Judas het vir Jesus verraai. Hy het voor daardie tyd vir die mense gesê wat hy sal doen om vir hulle te wys wie Jesus is. Hy het gesê: “Ek sal ’n man soen, dit is Jesus. Julle moet Hom vang.”