Matteus 24:32-43 Bybel vir Almal (ABA)

32. Jesus het ook gesê: “Julle moet hierdie les leer van die vyeboom: Wanneer ’n vyeboom se takke sag word en die blare begin groei, dan weet julle die somer is naby.

33. So ook: Wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, dan moet julle weet die Here is naby, Hy sal gou kom.

34. Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat nou lewe, sal nog lewe wanneer al hierdie dinge gebeur.

35. Die hemel en die aarde sal eendag verdwyn, maar my woorde sal altyd waar wees.”

36. “Niemand weet op watter dag en hoe laat in die dag Ek sal kom nie. Die engele in die hemel weet nie, ook nie Ek, die Seun, nie. Net die Vader weet dit.

37. Wanneer Ek, die Seun van die mens, kom, dan sal dit wees soos in die tyd van Noag.

38. Want in daardie dae voor die watervloed het die mense aangehou om te eet en te drink en te trou en hulle kinders te laat trou tot die dag toe Noag in die ark ingegaan het.

39. En hulle het nie geweet wat gebeur het nie, totdat die watervloed gekom het en alles weggespoel het. So sal dit ook wees wanneer Ek, die Seun van die mens, kom.

40. Dan sal twee mense in ’n koringland werk, en God sal die een mens kies maar nie die ander een nie.

41. Twee vroue sal met dieselfde maalklippe koring maal, en God sal een vrou kies maar nie die ander een nie.

42. Julle moet wakker wees, want julle weet nie op watter dag julle Here sal kom nie.

43. “Maar julle moet dit weet: As die eienaar van ’n huis weet hoe laat in die nag ’n dief sal kom, dan sal hy wakker bly en nie toelaat dat die dief by sy huis inbreek nie.

Matteus 24