Matteus 17:9-24 Bybel vir Almal (ABA)

9. Jesus en sy dissipels het van die berg afgekom, en Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet vir niemand vertel wat julle gesien het nie. God moet My, die Seun van die mens, eers weer laat lewe, dan mag julle dit vertel.”

10. Die dissipels het vir Jesus gevra: “Hoekom sê die skrifgeleerdes dat Elia moet kom voordat die Messias kom?”

11. Jesus antwoord toe: “Dit is waar, Elia kom eers en hy sal alles gereedmaak.

12. Maar Ek sê vir julle, Elia het al klaar gekom, maar die mense het nie geweet dat dit hy is nie. Hulle het met hom alles gedoen wat hulle wou. So sal hulle ook baie slegte dinge doen aan My, die Seun van die mens.”

13. Toe het die dissipels verstaan dat Jesus aan Johannes die Doper gedink het toe Hy met hulle oor Elia gepraat het.

14. Jesus en sy dissipels het weer by die mense gekom. ’n Man het na Jesus toe gekom en hy het voor Jesus gekniel

15. en gesê: “Here, U moet asseblief jammer wees vir my seun, want hy kry epileptiese aanvalle en hy kry baie swaar. Hy val baie maal in die water of in die vuur.

16. Ek het hom na u dissipels toe gebring en hulle kon hom nie gesond maak nie.”

17. Jesus sê toe: “Julle glo nie en julle het sleg geword! Hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek nog geduldig wees met julle? Bring die seun hiernatoe, bring hom na My toe.”

18. Jesus het hard met die onrein gees gepraat. Die duiwel het toe uit die seun uitgegaan en hy het dadelik gesond geword.

19. Die dissipels het na Jesus toe gekom en toe hulle alleen by Hom was, het hulle vir Hom gevra: “Hoekom kon ons nie die onrein gees uitjaag nie?”

20. Jesus sê toe vir hulle: “Dit is omdat julle nie genoeg glo nie. Ek sê vir julle, en dit is seker: As julle ’n bietjie geloof het, so klein soos ’n mosterd-saadjie, dan sal julle vir hierdie berg kan sê: ‘Gaan weg, gaan na ’n ander plek,’ en die berg sal gaan. Julle sal alles kan doen.”

22. Toe Jesus en die dissipels in Galilea saamgekom het, sê Hy vir hulle: “God sal My, die Seun van die mens, vir die mense gee

23. sodat hulle My kan doodmaak. Maar op die derde dag sal God My weer laat lewe.”Die dissipels het toe baie hartseer geword.

24. Jesus en sy dissipels het in Kapernaum gekom. Die mense wat die tempel-belasting kollekteer, kom toe na Petrus toe en vra vir hom: “Betaal julle meneer tempel-belasting of nie?”

Matteus 17