Matteus 17:1-13 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Jakobus se broer Johannes saam met Hom geneem tot op ’n hoë berg. Daar was nie ander mense by hulle nie.

2. Daar by hulle het Jesus toe skielik anders begin lyk. Sy gesig het soos die son geblink en sy klere het soos lig geskyn.

3. Skielik het Elia en Moses aan hulle verskyn en hulle het met Jesus gestaan en praat.

4. Petrus sê toe vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. As U wil, dan sal ek hier drie tente opslaan, een tent vir U, een tent vir Moses en een tent vir Elia.”

5. Petrus was nog besig om te praat, toe het ’n helder wolk oor hulle gekom. Hulle het gehoor God praat uit die wolk. God het gesê: “Dit is my Seun. Ek is lief vir Hom. Hy maak My bly. Julle moet doen wat Hy sê.”

6. Toe die dissipels dit hoor, het hulle baie bang geword en hulle het met hulle gesig teen die grond gaan lê.

7. Jesus het na hulle toe gekom en Hy het aan hulle geraak en gesê: “Staan op, moenie bang wees nie.”

8. Toe die dissipels opkyk, het hulle net vir Jesus gesien, niemand anders nie.

9. Jesus en sy dissipels het van die berg afgekom, en Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet vir niemand vertel wat julle gesien het nie. God moet My, die Seun van die mens, eers weer laat lewe, dan mag julle dit vertel.”

10. Die dissipels het vir Jesus gevra: “Hoekom sê die skrifgeleerdes dat Elia moet kom voordat die Messias kom?”

11. Jesus antwoord toe: “Dit is waar, Elia kom eers en hy sal alles gereedmaak.

12. Maar Ek sê vir julle, Elia het al klaar gekom, maar die mense het nie geweet dat dit hy is nie. Hulle het met hom alles gedoen wat hulle wou. So sal hulle ook baie slegte dinge doen aan My, die Seun van die mens.”

13. Toe het die dissipels verstaan dat Jesus aan Johannes die Doper gedink het toe Hy met hulle oor Elia gepraat het.

Matteus 17