3. Filippus en Bartolomeus, Tomas en Matteus die tollenaar, Jakobus seun van Alfeus, Taddeus,
4. Simon die patriot, en Judas Iskariot wat later vir Jesus verraai het.
5. Jesus het hierdie twaalf dissipels gestuur om te gaan preek. Hy het vir hulle gesê: “Moenie gaan na die heidene en moenie gaan na ’n stad van die Samaritane nie.
6. Maar gaan na die mense van Israel, hulle is soos skape wat weggeraak het.
7. Gaan preek vir hulle en sê: ‘Die tyd is naby wanneer julle sal weet dat God wat in die hemel is, Koning is.’
8. Julle moet siek mense gesond maak en julle moet mense wat gesterf het, weer laat lewe. Julle moet melaatse mense gesond maak en julle moet duiwels uit mense jaag. Julle het nie betaal om hierdie krag te kry nie. Ander mense moet ook nie betaal wanneer julle vir hulle help nie.
9. Moenie geld saamneem in julle beursies nie, niks goue of silwer of koper geld nie.
10. Moenie ’n rugsak saamneem wanneer julle gaan nie, en moenie nog klere of nog sandale of ’n kierie saamneem nie. Wanneer iemand werk, dan moet ’n mens hom beloon.
11. Wanneer julle in ’n stad of dorp inkom, dan moet julle uitvind by wie julle welkom is. Julle moet by daardie mense bly totdat julle weer weggaan uit daardie stad.
12. Wanneer julle inkom in ’n huis, dan moet julle die mense groet en bid dat God sy vrede vir hulle sal gee.
13. As die mense sê julle is welkom, dan moet julle sê dat die Here se vrede daar sal bly. Maar as hulle sê julle is nie welkom nie, dan moet julle nie sê dat die Here se vrede daar sal bly nie.
14. As iemand sê julle mag nie daar bly nie en as hulle nie vir julle wil luister nie, dan moet julle weggaan van daardie huis of stad en julle moet die stof van julle voete afskud.
15. Ek sê vir julle, en dit is seker: Dit sal baie sleg gaan met daardie mense op die dag wanneer God almal sal oordeel. Dit sal beter gaan met die stede Sodom en Gomorra as met daardie stad.”
16. Jesus het ook gesê: “Ek stuur julle na die mense in die wêreld, en julle sal soos skape wees wat tussen gevaarlike wolwe is. Daarom moet julle versigtig wees soos die slange, en soos duiwe moet julle niks verkeerd doen nie.
17. Julle moet oppas vir die mense, want hulle sal julle vang en hof toe vat. Hulle sal julle met swepe slaan in die sinagoges.
18. Die mense sal julle hof toe sleep voor goewerneurs en konings omdat julle aan My behoort. Dan sal julle vir die konings en die mense wat nie Jode is nie, kan sê wie Ek is.
19. En wanneer die mense julle hof toe vat, dan moet julle nie bekommerd wees oor wat julle moet sê nie, want God sal vir julle sê wat julle dan moet sê.
20. Dit sal nie júlle wees wat praat nie, dit sal die Gees van julle Vader wees wat sal sê wat julle moet praat.