Markus 14:12-23 Bybel vir Almal (ABA)

12. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood, toe die mense die paaslam moes slag, het Jesus se dissipels vir Hom gevra: “Waar wil U hê moet ons gaan gereedmaak sodat U die Paas-ete kan eet?”

13. Jesus het twee van sy dissipels gestuur en vir hulle gesê: “Gaan in Jerusalem in. ’n Man wat water in ’n kruik dra, sal na julle toe kom. Gaan saam met hom.

14. Hy sal in ’n huis ingaan, en julle moet vir die eienaar van daardie huis sê: ‘Ons Meneer vra waar is die kamer waar Hy die Paas-ete saam met sy dissipels kan eet.’

15. Die eienaar sal vir julle ’n groot kamer op die dak van sy huis wys. Alles wat nodig is vir die ete, is daar. Julle moet alles gereedmaak vir die Paas-ete sodat ons daar kan eet.”

16. Die dissipels het gegaan en hulle het in Jerusalem gekom. Hulle het alles gekry soos Jesus vir hulle gesê het en hulle het alles gereedgemaak vir die Paas-ete.

17. Toe dit aand geword het, het Jesus en die ander dissipels daar aangekom.

18. Hulle het by die tafel gesit en hulle was besig om te eet. Toe het Jesus gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Een van julle sal My verraai. Hy eet nou saam met My.”

19. Die dissipels het baie hartseer geword. Elke dissipel het vir Jesus gevra: “Is dit ek?”

20. Jesus het vir hulle gesê: “Dit is een van julle twaalf dissipels, die een wat sy brood saam met My in die sous druk.

21. Ek, die Seun van die mens, sal sterf soos die profete oor My geskryf het. Maar daardie man wat My verraai, sal baie swaar kry. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”

22. Terwyl hulle geëet het, het Jesus brood geneem en vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee. Hy het gesê: “Neem die brood, dit is my liggaam.”

23. Jesus het ook ’n beker wyn geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Toe gee Hy dit vir sy dissipels, en hulle het almal daarvan gedrink.

Markus 14