Lukas 8:13-30 Bybel vir Almal (ABA)

13. Wanneer die saad in vlak grond val waar daar klippe onder die grond is, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor en glo en bly is daaroor. Maar daar is nie ’n diep wortel nie, hulle hou nie aan om te glo nie. Wanneer hulle swaarkry, dan hou hulle op om te glo.

14. Wanneer die saad tussen dorings val, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor, maar hulle is bekommerd oor baie dinge en hulle wil net ryk word en lekker lewe. Dan is hulle soos plante met vrugte wat nooit ryp word nie.

15. Maar wanneer die saad in vrugbare grond val, is dit soos wanneer mense die boodskap hoor en hulle glo dit met hulle hele hart. Hulle onthou die boodskap en hulle is soos plante wat altyd goeie vrugte dra.”

16. Jesus het ook gesê: “’n Mens steek nie ’n lamp op en sit dit dan onder ’n emmer of steek dit onder die bed weg nie. Nee, ’n mens sit ’n lamp op die lampstaander. Dan kan almal in die kamer die lig sien.

17. God is Koning. Niemand kan hierdie geheim wegsteek nie. Almal sal daarvan weet en almal sal dit kan sien.

18. Julle moet goed luister na die boodskap. Want as iemand verstaan en hy vertel vir almal dat God Koning is, dan sal God hom nog beter laat verstaan. Maar as iemand dit nie verstaan nie, dan sal God hom niks laat verstaan nie, ook as hy dink dat hy verstaan.”

19. Jesus se ma en broers het vir Hom kom kuier. Hulle kon nie naby Hom kom nie, want daar was te veel mense rondom Hom.

20. Toe kom sê iemand vir Jesus: “Jou ma en jou broers staan hier buite en hulle wil jou graag sien.”

21. Maar Jesus het vir hulle gesê: “My ma en my broers is die mense wat die boodskap van God hoor en doen wat God wil hê.”

22. Eendag het Jesus saam met sy dissipels in ’n boot geklim. Jesus sê toe vir hulle: “Kom ons gaan na die ander kant van die see.”Hulle het dit gedoen.

23. Voordat hulle daar was, het Jesus aan die slaap geraak. Skielik het ’n sterk stormwind oor die see begin waai. Die boot het vol water geword en dit het gevaarlik geword vir hulle.

24. Die dissipels gaan toe na Jesus toe en hulle maak Hom wakker. Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, Meneer, ons sal verdrink.”Toe Jesus wakker word, het Hy kwaai gepraat met die wind en die groot branders.

25. Die wind het opgehou waai, en alles het stil geword. Jesus sê toe vir die dissipels: “Hoekom glo julle nie?”Maar die dissipels het baie groot geskrik en hulle was baie verbaas. Hulle het vir mekaar gevra: “Wie is hierdie Man? Hy sê vir die wind en die water hulle moet stil wees, en dan luister hulle na Hom!”

26. Jesus en sy dissipels het toe verder gegaan tot by die land waar die Geraseners gewoon het, oos van Galilea.

27. Toe hulle uit die boot klim, kom daar ’n man uit die stad na Jesus toe. Die man was vol duiwels, hy was mal. Hy het ’n lang tyd niks klere gedra nie en hy het nie in ’n huis gewoon nie. Hy het in die grafte gewoon.

28. Toe die man vir Jesus sien, het hy hard geskree en voor Jesus op die grond geval. Hy het hard geskree: “Wat wil U met my doen, Jesus, Seun van die Allerhoogste God? Ek soebat U, U moenie vir my seermaak nie, asseblief.”

29. Die man het dit gesê omdat Jesus vir die onrein gees gesê het hy moet uit die man uitgaan. Voorheen het die onrein gees die man baie maal aangeval. Dan moes die mense die man vasbind met kettings en voetboeie en hulle moes hom toesluit. Maar die man het altyd die kettings en boeie stukkend gebreek en dan het die duiwel hom in die woestyn ingejaag.

30. Jesus vra toe vir die man: “Wat is jou naam?”En hy het geantwoord: “My naam is Legioen.”Hy het hierdie naam gekry omdat baie duiwels in hom gewoon het.

Lukas 8