10. Die vroue wat hierdie dinge gesien het, was Maria Magdalena, Johanna, Maria ma van Jakobus, en die ander vroue wat by hulle was. Toe hulle hierdie dinge vir die apostels vertel,
11. het die apostels gedink die vroue praat nonsens, en hulle het die vroue nie geglo nie.
12. Petrus het opgestaan en hy het na die graf gehardloop. Hy het gebuk en by die graf ingekyk en gesien daar lê net lappe. Hy het teruggegaan en hy was baie verbaas oor wat gebeur het.
13. Dieselfde Sondag het twee van die mense wat ook altyd by Jesus se dissipels was, na die dorpie Emmaus geloop. Emmaus was 60 stadioi van Jerusalem.
14. Hulle het met mekaar gepraat oor alles wat gebeur het met Jesus.
15. Terwyl hulle daaroor wonder en praat, het Jesus self nader gekom en saam met hulle geloop.
16. Maar hulle het nie gesien dit is Jesus nie, God het hulle dit nie laat sien nie.
17. Jesus het vir hulle gevra: “Waaroor loop en praat julle met mekaar?”Die twee mans het gaan staan. Hulle was baie hartseer.
18. Kleopas, een van die mans, het vir Jesus gevra: “Woon jy nie in Jerusalem nie? Weet jy nie van al die dinge wat hier gebeur het in die dae wat verby is nie?”
19. Jesus het vir hulle gevra: “Watter dinge?”Hulle sê toe vir Jesus: “Al die dinge wat gebeur het met Jesus, die man van Nasaret. Jesus was ’n profeet. Hy het wonderlike dinge gedoen en gesê. God was by Hom en al die mense het van Hom geweet.
20. Maar die priesterleiers en die leiers van ons volk het niks daarvan gehou nie. Hulle het vir Jesus gaan beskuldig by Pilatus, hulle wou hê Pilatus moet sê dat Jesus moet sterf. Toe het hulle vir Jesus gekruisig.
21. Ons het gehoop Jesus is die Messias wat die volk Israel kon vrymaak. Maar dit het nie gebeur nie, want Jesus het drie dae gelede gesterf.