Lukas 12:31-45 Bybel vir Almal (ABA)

31. Nee, dit moet vir julle die belangrikste wees dat God die Koning is. Dan sal Hy al hierdie ander dinge vir julle gee.

32. Julle is min, maar julle moenie bang wees nie, want julle Vader wil graag julle Koning wees.

33. Dit sal beter wees as julle al julle goed verkoop en vir die arm mense sorg. Julle moet vir julleself beursies maak wat nie oud word nie, julle moet goed hê wat altyd daar sal wees. Dan sal julle ryk wees, julle sal in die hemel by God goed hê wat nie opraak nie. Daar kan diewe dit nie steel nie, en motte kan dit nie opvreet nie.

34. Die dinge wat in die hemel by God is, moet vir julle die belangrikste wees. Dan sal julle net dink aan God wat in die hemel is.”

35. “Julle moet altyd gereed wees, julle lampe moet altyd brand.

36. Julle moet wees soos slawe wat wag dat hulle eienaar terugkom van die fees by ’n bruilof. Wanneer die eienaar kom en aan die deur klop, dan maak die slawe dadelik die deur vir hom oop.

37. Die slawe wat wakker is wanneer die eienaar kom, sal baie gelukkig wees. Ek sê vir julle, en dit is seker: Die eienaar sal sê hulle moet by die tafel kom sit. Hy sal sy voorskoot aansit en hy sal hulle bedien.

38. Ja, daardie slawe sal waarlik gelukkig wees as hulle gereed is, ook as die eienaar laat in die nag of baie vroeg in die oggend kom en hy sien sy slawe is wakker.

39. Maar ook die eienaar van ’n huis moet wakker en gereed wees, want as hy weet presies hoe laat die dief kom, dan sal hy seker maak dat die dief nie by sy huis kan inbreek nie.

40. Julle moet ook altyd gereed wees, want Ek, die Seun van die mens, sal kom wanneer julle dit nie verwag nie.”

41. Petrus het gevra: “Here, vir wie vertel U hierdie gelykenis? Vertel U dit vir óns of vir al die mense?”

42. Toe sê die Here: “Ek wil vir jou vertel hoe is ’n bestuurder wat verstandig is en doen wat sy eienaar wil hê. Die eienaar kies een van sy slawe en stel hom aan om bestuurder te wees van al die ander slawe. Hy moet ook elke dag vir hulle kos gee.

43. Wanneer die eienaar terugkom en hy sien sy slaaf is besig om alles te doen wat die eienaar vir hom gesê het, dan sal daardie slaaf baie gelukkig wees.

44. Ek sê vir julle, en dit is seker: Die eienaar sal daardie slaaf die hoof maak wat vir al die goed van sy eienaar moet sorg.

45. Maar ’n slaaf sal miskien dink sy eienaar bly baie lank weg en sal miskien nie weer terugkom nie. En dan begin die slaaf die ander slawe slaan en hy begin eet en drink en dronk word.

Lukas 12