Lukas 1:17-35 Bybel vir Almal (ABA)

17. Johannes sal ’n profeet van God wees. Hy sal dapper en sterk wees, soos Elia. Hy sal vrede maak tussen pa’s en hulle kinders. Hy sal ongehoorsame mense laat doen wat God wil hê. Dan sal hulle ’n volk wees wat reg is om God te dien.”

18. Sagaria het vir die engel gesê: “Hoe sal ek weet dat dit sal gebeur? Ek is ’n ou man en my vrou is ook baie oud.”

19. Die engel het vir hom gesê: “Ek is die engel Gabriël, ek werk vir God. God het my gestuur om met jou te praat en vir jou hierdie goeie boodskap te bring.

20. Die boodskap wat ek vir jou gebring het, is waar. Dit sal gebeur. Maar jy het my nie geglo nie, en daarom sal jy stom wees en jy sal nie kan praat nie, tot die dag wanneer hierdie dinge sal gebeur.”

21. Die mense het buite gewag vir Sagaria en hulle het gewonder hoekom hy so lank in die tempel bly.

22. Toe Sagaria uitkom, kon hy nie met die mense praat nie, en hulle het besef God het iets met hom laat gebeur in die tempel. Hy het vir hulle met sy hande gewys dat iets met hom gebeur het, en hy het stom gebly.

23. Toe die priesters van Abia se groep klaar gewerk het by die tempel, het Sagaria teruggegaan na sy huis.

24. Kort daarna het sy vrou Elisabet swanger geword, en sy het vyf maande lank nie uit die huis gegaan nie. Sy het gesê:

25. “Die Here het my gehelp, Hy het gesien ek is hartseer. Hy het geweet die mense spot my omdat ek nie kinders het nie. Nou het Hy dit verander, niemand sal my nou meer spot nie.”

26. Toe Elisabet ses maande swanger was, het God die engel Gabriël gestuur na die stad Nasaret in Galilea.

27. God het hom gestuur na ’n meisie wat verloof was aan Josef. Josef was ’n man van die nageslag van koning Dawid. Die meisie se naam was Maria, en sy was ’n maagd.

28. Die engel het na Maria toe gegaan en gesê: “Ek groet jou. God is goed vir jou. Ja, die Here is by jou.”

29. Maria het baie groot geskrik toe sy hoor wat die engel vir haar sê en sy het gewonder wat dit beteken.

30. Die engel het vir haar gesê: “Maria, jy moenie bang wees nie, want God is goed vir jou.

31. Jy sal swanger word en jy sal ’n seun kry. Jy moet Hom Jesus noem.

32. Hy sal baie belangrik wees, die Hoogste God sal Hom sy Seun noem. Die Here God sal Hom laat regeer soos sy voorvader Dawid.

33. Jesus sal altyd regeer oor die nageslag van Jakob. Hy sal nooit ophou om Koning te wees nie.”

34. Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan ek ’n kind kry? Ek het nog nooit by ’n man geslaap nie.”

35. Die engel het vir haar gesê: “Die Heilige Gees sal op jou kom en die krag van die Hoogste God sal soos ’n skaduwee oor jou wees. Daarom sal God sê die Kind wat gebore word, is heilig, Hy is die Seun van God.

Lukas 1